Polisie op spoor van Pta-eiendomsmagnaat se moordenaar

Chris Orban is Sondag in 'n Pretoriase hospitaal dood nadat hy erg by sy Waterkloof-huis aangerand is. Foto: Facebook

Chris Orban is Sondag in ‘n Pretoriase hospitaal dood nadat hy erg by sy Waterkloof-huis aangerand is. Foto: Facebook

Die Brooklyn-polisie is warm op die spoor van ʼn vermeende hawelose man wat na bewering Chris Orban (71), ʼn bekende eiendomsmagnaat van Pretoria, vermoor het.

Kapt. Colette Weilbach, polisiewoordvoerder, het Dinsdag aan Maroela Media gesê niemand is nog in verband met Orban se moord in hegtenis geneem nie, maar dat die ondersoek voortgaan en die polisie “sterk leidrade” opvolg.

Maroela Media het vroeër berig Orban is op 7 Junie in ʼn hospitaal dood nadat hy ʼn dag tevore erg in sy Waterkloof-huis, oos van Pretoria, aangerand en beroof is.

Weilbach het destyds gesê die slagoffer is die Saterdag omstreeks 15:15 deur ʼn 30-jarige nutsman wat vir hom gewerk het in sy huis in Banketstraat aangetref. Orban is erg aangerand en het beserings aan sy kop en gesig opgedoen.

“Die nutsman het besef sy werkgewer se liggroen Hyundai Tucson, ʼn bergfiets en ʼn plasmatelevisie word vermis,” het Weilbach gesê.

Volgens inligting het Orban glo vroeër die dag ʼn hawelose man na sy huis geneem. Daar was glo geen gedwonge toegang tot sy perseel nie.

Orban was nie getroud nie en laat ʼn aangenome seun van 13 jaar agter. Die seun is in veilige sorg.

Die polisie ondersoek ʼn saak van moord.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.