Polisie ‘op spoor’ van verdagtes ná Tonteldoos-moord

Len Pretorius (60). (Foto: Facebook)

Die polisie in Limpopo sê hulle is op die spoor van drie aanvallers wat Len Pretorius (60) Vrydagaand op ʼn gasteplaas in die omgewing van Tonteldoos, noordoos van Dullstroom, doodgeskiet het.

Pretorius en sy vrou, Joey (52), woonagtig in Pretoria, was gaste by Bushboys Camp & Cottages en is omstreeks 20:30 na hul rondawel toe een van die aanvallers vermoedelik van buite teen ʼn venster geskop het. Len het die gordyn weggetrek en een van die aanvallers het van buite op hom losgebrand. Len is doodgeskiet.

Die mans het die rondawel binnegestorm en glo geld en wapens by Joey geëis. Die egpaar het nie ʼn wapen gehad nie, en die aanvallers het eindelik met geld en sommige van die Pretorius-egpaar se persoonlike items gevlug.

Joey is tydens die aanval oor die kop geslaan.

Len Pretorius en sy vrou Joey. (Foto: Facebook)

Kol. Moatshe Ngoepe, polisiewoordvoerder, het gesê die polisie is “op die spoor” van die verdagtes, maar geen inhegtenisnemings is tot dusver gedoen nie.

Sakkie Louwrens, verbonde aan Bosveld-misdaadondersoeke, was Maandag op pad na die toneel nadat inwoners van die omgewing hom gevra het om betrokke te raak by die ondersoek na die moord op Pretorius. Louwrens was die afgelope ruk betrokke by deurbrake na verskeie hoëprofielmisdade in die provinsie.

Hy het gesê hy gaan ook ondersoek instel na ander aanvalle of voorvalle in die Tonteldoos-gebied en Roossenekal.

Len en Joey is in Maart vanjaar getroud.

Tientalle boodskappe van medelye het ná Pretorius se dood op sosiale media ingestroom.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Androclus ·

Hande wat onskuldige bloed dis een van die dinge wat die Here haat.Spreuke 6:16-17

Dup ·

Nog ñ waardevolle,hardwerkende en eerlike lewe word uitgewis deur breinlose en wrede misdadigers.

Janee ·

So bitter tragies!….Ongelukkig sal “die spoor” koud raak asgevolg van speurders wat nutteloos is.

JohanR ·

Janee die spoor is nooit koud vir speurders nie. Die speurders wat my ouers se aanval ondersoek het, het die twee ouens drie weke na die aanval gekry waar hulle op ‘n ander plaas gewerk het. Hulle het na die aanval taxi staanplek toe gevlug en is met bebloede klere in ‘n taxi daar weg. Hulle was ‘n paar dae in aanhouding, en het toe R1000 elk se borg gekry….go figure! Die hoof speurder het amper nie geslaap in die drie weke terwyl hy die twee gesoek het nie. Polisie en speurders hou net niks van plaasaanvalle nie!

Patch ·

Nie eers met vakansie of ‘n naweek wegbreek is mens veilig nie. Dis so tragies.

Samuel ·

Wanneer gaan die regering ingryp? Sal ons geagte SP uit sy slaap ontwaak? Waar is die minister van polisie? Nee, ons is nêrens meer veilig nir.

Debbie ·

Hierdie tipe nuus berigte maak my siek en baie jammer dat ek in hierdie land woon

Ferryman ·

Ek het Len geken as n hardwerkende en eerlike markagent wat at Christenskap uitgeleef het. Dit is vir my baie hartseer dat by op so n onmenslike wyse moes sterf.

Blomme ·

Simpatie met die familie.. So sinneloos dat menseso gevoelloos is.

Anton ·

Die doodstraf moet weer ingestel word. Moontlik sal dit die sinneloosheid help stop

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.