Polisie, politici rig glo aanvalle op joernaliste

Foto bloot ter illustrasie. (Foto: Unsplash)

Die Suid-Afrikaanse Nasionale Redakteursforum (Sanef) is bekommerd oor die toenemende fisieke en verbale aanvalle op joernaliste en meen dat sulke voorvalle ʼn bedreiging vir vryheid van uitdrukking inhou. Wat meer kommerwekkend is, is dat van hierdie aanvalle deur polisielede, politieke partye en lede van die publiek uitgevoer is.

Sanef, Amnestie Internasionaal Suid-Afrika, die Veldtog vir Vrye Uitdrukking, die komitee vir die beskerming van joernaliste en Media Monitoring Afrika het in ʼn gesamentlike verklaring gesê daar is minstens 59 afsonderlike voorvalle die afgelope paar jaar aangemeld, waar joernaliste onderwerp is aan teistering en fisieke of verbale aanvalle. Talle aanvalle soos dié word boonop nooit aangemeld nie.

“Dit sluit in fisieke aanvalle, aanlyn dreigemente wat spesifiek joernaliste teiken, oordrewe strafwetgewing wat joernaliste of hul vermoë rakende verslaggewing strem, asook die voortdurende kwesbaarheid van senior joernaliste by die openbare uitsaaier,” lui die verklaring.

“Dít beperk die reg op vrye uitdrukking en het die potensiaal om die reg van mense om toegang tot inligting in openbare belang te verkry, te beperk.

“Hierdie kwessies moet behoorlik deur die staat aangepak word sodat vrye uitdrukking nie verder beperk word nie.”

Teistering, fisieke aanvalle

Oor die afgelope vyf jaar is daar menige aanvalle op joernaliste uitgevoer om hulle te keer om hul werk te doen.

In een van die jongste aanvalle is drie verslaggewers van die Suid-Afrikaanse Uitsaaikommissie (SAUK), Pimani Baloyi, Mahlatse Phaladi en kameraman Mpho Masela, naby ʼn stemlokaal in Tsabeng, in Tzaneen, deur ʼn groep inwoners van die omgewing geteister en geïntimideer.

Die verslaggewers is beledigings toegesnou en inwoners het geëis dat hulle die omgewing dadelik verlaat, aangesien die media nie daar welkom is nie.

Die Newzroom Afrika-joernalis Ziniko kaMhlaba is kort daarna daarvan beskuldig dat hy ingemeng het met die uitvoering van ʼn beampte van die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) se pligte.

Hy is aangekeer, maar die Gautengse polisiehoof, Elias Mawela, het kort daarna opdrag gegee dat kaMhlaba vrygelaat word.

Die SAUK-verslaggewer Samkele Maseko is ook verlede jaar, voor die aanvang van die Zuma-onluste, hardhandig buite oudpres. Jacob Zuma se opstal by Nkandla in KwaZulu-Natal hanteer nadat ʼn regstreekse uitsending deur dieselfde joernalis Saterdag onderbreek is.

Hy is glo deur Zuma-ondersteuners aangeval, gewurg en geklap.

“Die organisasies is bekommerd dat die aanvalle spreek van ʼn onderliggende gebrek aan begrip en aanvaarding van die belangrikheid van ʼn vrye media en die mate waarin dit die gevolg is van doelbewuste pogings deur politici om die media te ondermyn.”

Aanlyn aanvalle

Daar is ook die afgelope paar jaar ʼn toename in die aantal aanlyn aanvalle waaronder joernaliste deurloop.

Sedert die laaste verslagtydperk is joernaliste onderwerp aan haatspraak, doodsdreigemente, dreigemente van fisieke leed en openbare aanvalle deur politici en openbare figure. Hierdie aanvalle deur politici lei dikwels tot verdere teistering en intimidasie deur hul politieke ondersteuners.

In 2018 het die leier van die EFF, Julius Malema, boonop sy lede aangehits om “beslissend teen verslaggewers op te tree”. Hy het selfs ʼn paar joernaliste op die naam genoem toe hy die skare buite die Zondo-kommissie se verhore toegespreek het.

Een van die verslaggewers wat Malema genoem het, is in ʼn winkelsentrum fisiek aangerand en ander is op sosiale media geteister.

Bedreigings vir vrouejoernaliste raak ook al hoe meer algemeen, met baie van hierdie aanvalle wat doodsdreigemente en dreigemente van verkragting insluit.

“Sulke aanvalle ondermyn mediavryhede en kan ʼn negatiewe uitwerking hê op ʼn joernalis se gewilligheid om sy of haar pligte uit te voer, wat soms tot selfsensuur lei.”

VN genader

Die organisasies het verlede maand ʼn gesamentlike voorlegging aan die Verenigde Nasies (VN) se Universele Periodieke Oorsig (UPR) gestuur, wat fokus op Suid-Afrika se nakoming van internasionale menseregteverpligtinge wat verband hou met vryheid van mening en uitdrukking.

Die UPR is ʼn hersiening van alle VN-lidlande se menseregterekord, wat elke vier jaar gehou word. Die organisasies se voorlegging kyk ook na die vordering wat gemaak is sedert die laaste UPR-oorsig in 2017.

Die betrokke voorlegging handel oor ʼn aantal kwessies soos die verbale en fisieke aanval en teistering van joernaliste, aanlyn aanvalle, asook die verspreiding van vals nuus.

“Hoewel die media in Suid-Afrika meer vryheid geniet as baie van hul eweknieë op die vasteland, word hulle steeds daagliks deur ʼn stortvloed aanvalle in die gesig gestaar,” sê die organisasies.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

11 Kommentare

jongste oudste gewildste
domheks

Waarheid maak soms seer – die kaders hou nie van verskillende menings nie!

gatgogga

Nou wanneer word Shivambu vervolg vir sy aanranding op die joernalis/fotograaf?
En terwyl ek op die onderwerp van Ramapoison se beskerming van die EFF is,
Wanneer word Malema en Shivambu aangekla oor die VBS?
Wanner gaan Malema en Shivambu se saak betreffende die aanranding op ‘n polisie offisier voort?
Wanneer gaan Malema se saak omtrent die afvuur van ‘n aanvalsgeweer in die publiek voort?
Wanneer is daar hofuitspraak oor Malema se haatspraak liedjies?

marius

Vryheid van spraak bestaan nie . Dit word net toegelaat as die meerderheid hulself uitdruk met anargistiese optrede . Die Amerikaners gaan dit ook beleef . Baie vinnig .

Hayntjie

Die regering word nie meer gerespekteer nie en misdadigers buit dit uit vir eie gewin. Joernaliste vertel die waarheid en berig oor misdadigers se optrede, wys hulle uit en verkry dikwels getuienis wat skadelik vir hulle is. ʼn Oningeligte en naïwe samelewing word maklik deur misdadigers en opruiend beïnvloed.

Jaco

Wat van die aanval op Collins Khoza? Swart polisie en swart soldate rand ‘n swart man so erg aan dat hy ‘n paar ure later sterf. Amper 2 jaar later en daar het niks van gekom nie.
In dié anti-wit SA kan ek verstaan dat as so ‘n aanval op ‘n wit mens tot niks lei nie, maar ek sou baie meer reg en geregtigheid verwag as our people lelik is met hulle mede our people. So hoe dan nou?