Polisie reg vir groep wat Kaapse metro ‘tot stilstand wil bring’

(Foto: Facebook)

Die polisie in die Wes-Kaap is op ʼn hoë gereedheidsgrondslag geplaas weens ʼn betoging wat beplan word om die Kaapstad-metropool tot stilstand te bring.

“Ons het met kommer kennis geneem van berigte op sosiale media van ʼn drukgroep wat dreig om Maandag sekere dele van Kaapstad, insluitend hoofweë en toegangsroetes, tot stilstand te bring,” het brig. Novela Potelwa, polisiewoordvoerder, gesê.

Die drukgroep Gatvol Capetonian het gesê hy gaan paaie oor die hele metro sluit. Volgens die drukgroep wil hy die aandag vestig op die toestande waarin agterplaasbewoners op die Kaapse Vlakte woon.

Dan Plato, burgemeester van Kaapstad, het ʼn beroep op die polisie gedoen om te verhoed dat wetsgehoorsame burgers geterroriseer word.

“Dit kan nie so wees dat ʼn sogenaamde ‘sluiting’ vooraf aangekondig en bevorder word deur opportunistiese politieke groeperings wat beplan om die regte van inwoners te skend nie. Dit is beplande misdadigheid wat in die kiem gesmoor moet word.”

Plato het van die Wes-Kaapse polisiekommissaris ʼn gekoördineerde wetstoepassingsreaksie versoek om inwoners te beskerm.

Die bestuur van die SAPD in die provinsie het onderneem om hulpbronne binne die SAPD en ander wetstoepassingsagentskappe te mobiliseer om enige wetteloosheid te bekamp. “Die sporadiese voorvalle van openbare geweld wat in verskillende dele van die Kaapstadse metropool plaasvind, bly ook ʼn kommerwekkende aspek vir wetstoepassingsagentskappe.”

Die polisie het ʼn streng waarskuwing gerig aan alle gemeenskappe om die oppergesag van die reg te respekteer. “Kaapstad is, net soos die res van die land ingevolge die Wet op Rampbestuur, steeds in die afsonderingstydperk.

“Vlak 3 van die afsonderingstydperk het beperkings wat almal moet nakom en aan moet voldoen, insluitend byeenkomste wat steeds verbode is. Openbare geweld bly ʼn misdryf wat volgens wet strafbaar is.”

Volgens Potelwa sal wetstoepassingsbeamptes nie huiwer om beslissend op te tree teen enige onwettige gedrag nie.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Delon ·

Polisie is ook maar useless as hulle na al hierdie jare nie die bendes se rug gebreek kan kry nie , dit spreek van n onbevoegde regering

Porseleintjie ·

Delon. Een krimineel kan nie n ander krimineel se rug wil breek nie.

Magda ·

Hulle is net reg vir STAATSKAS – daar floreer hulle 250% so groot gemaak en laat staan

Willem ·

En as julle hulle vang waar gaan jullechulle toesluit. Tronke is dan oorvol

Frikkels ·

Sodra anderskleuriges wil protesteer, word hulle herinner aan die algehele afsondering en onwettige optrede. Dan is die polisie reg vir hulle. Hoekom is die polisie nooit reg vir swart betogings en plundery nie? Dit maak mens naar!

Pieter ·

“regte van inwoners te skend nie”. Die anc is die GROOTSTE skender van menseregte in SA, die publiek begin nou maar net anc se “wondelike” voorbeeld te volg.

Jakes ·

In Israel het hulle n stinkstof ontwikkel wat betogers onmiddelik uiteejaag. Sodra dit op jou vel of klere kom stink jy vir dae aaneen. Dit sal betogers tweemaal laat dink.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.