Polisie rep nog gʼn woord oor Joslin Smith-saak

Pas bekend – Joslin Smith: Polisie bevestig ondervraging van vier mense.

Joslin Joshlin Smith, vermis, Saldanha, Diazville, gesoek

Die vermiste Joslin Smith van Saldanha in die Wes-Kaap. (Foto: Wes-Kaap Polisie)

Die polisie het steeds geen woord gerep rakende verskeie berigte van beweerde verwikkelinge in die soektog na die vermiste Joslin Smith nie.

Daar word onder meer berig dat persone vir ondervraging ingeneem is in verband met Joslin se verdwyning en dat hulle uiteindelik in hegtenis geneem is nadat daar glo sekere bekentenisse gemaak is. Dié bekentenisse sluit glo onder meer in dat Joslin vir duisende rand verkoop is.

Ondanks verskeie navrae aan die polisie is daar nog geen woord van hul kant gerep oor die beweerde verwikkelinge nie.

Maroela Media het vroeër berig die soektog na die sesjarige Joslin is verskerp nadat daar oor die naweek items gevind is wat nou vir forensiese ontleding gestuur is.

Volgens die polisie is ʼn gebied in Diazville geïdentifiseer wat as deel van die koördinering van die soektog in sones onderverdeel is.

“Die soekgeselskap is ook versterk met lede van die vloot wat by die soektog aangesluit het en nog ʼn groot groep van die Stad Kaapstad wat ook van Maandag af na die gebied ontplooi sal word,” het brig. Novela Potelwa, polisiewoordvoerder, vroeër gesê.

Brandbestryders van die Saldanhabaai-munisipaliteit, asook ʼn berede-eenheid van die polisie en gespesialiseerde honde van die honde-eenheid, is ook by die soektog betrek. Speurders van die SAPD se provinsiale kantoor in Kaapstad het sedertdien op die Weskusdorp toegesak om die plaaslike ondersoekers te ondersteun.

Die pogings van al die rolspelers word versterk deur hommeltuie van die SAPD en die Stad Kaapstad. Intussen is talle buurtwaglede, gemeenskapsgebaseerde organisasies en plaaslike inwoners ook betrokke by die soektog na Joslin.

Die polisie het intussen by lede van die publiek gepleit om nie vals inligting op sosiale media te versprei nie of beeldmateriaal en foto’s van die soektogte te neem nie, aangesien dit die ondersoek nadelig kan beïnvloed.

Maroela Media het vroeër berig daar is Saterdagaand tydens die soektog op bebloede klere in ʼn oop veld afgekom.

Joslin het op Maandag 19 Februarie in die Middelpos- informele nedersetting by Diazville in Saldanha verdwyn.

Joslin, ʼn gr. 1-leerder aan Diazville Primêre Skool, is op 20 Februarie deur haar ma, Kelly Smith, as vermis aangemeld. Smith het Joslin glo op 19 Februarie in haar kêrel, Jacquin Appollis, se sorg gelaat nadat sy glo olik gevoel het.

Smith kon glo ook aanvanklik nie vir Appollis opspoor nie en toe hy later opdaag, kon hy glo nie sê waar Joslin is nie.

Jose Emke, Joslin se pa, bly naby Springbok in Namakwaland, maar het intussen na Saldanha gereis. Hy het gesê hy het sy dogtertjie in November laas gesien.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Casper ·

‘n Moontlikheid waaraan ek nog nie gedink het nie is die betrokkenheid van tradisionele genesers wat menslike liggaamsdele gebruik as “muti”.Alhoewel ek die ergste vermoed bly ek hoop sy lewe nog maar ek twyfel met alle respek en eerbied aan die familie.

Delia ·

Kom ons probeer positief bly. Ek glo regtig die SAPD gaan haar opspoor!!

pompies ·

Ek hoop van harte as die skuldiges aangekeer en skuldig bevind is daar n voorbeeld van hulle gemaak word. Lewens lank tronkstraf sonder enige parool, hulle moet nooit weer op straat wees nie.

Bolandse Nooi ·

Hoekom dink ek skielik dat Jacquin Appollis dalk die kind verkoop het in mense-handel? Ag hemel, ek hoop ek is verkeerd … ek hoop die dogtertjie word wel gevind en dat sy nog gesond en wel is.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.