Polisie: Reserviste wat heeltydse werk soek, moet aansoek doen

Argieffoto

Argieffoto

Die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) het reserviste wat vroeër vandeesweek betoog het vir vaste aanstellings aangesê om aansoek te doen daarvoor.

ʼn Groep reserviste het Donderdag by die polisie se hoofkantoor betoog. Brig. Vishnu Naidoo, woordvoerder van die polisie, het gesê die reserviste moet die behoorlike werwingsproses volg.

“Hoewel ons simpatie het met hul pleidooi vir indiensneming, sal dit ʼn baie slegte presedent skep indien die SAPD toegee aan die eis om mense wat nie aan die nodige vereistes voldoen nie in diens te neem.” Naidoo het gesê die SAPD probeer tans diegene eien wat aan die betoging deelgeneem het ten einde dissiplinêre stappe teen hulle te doen.

Die reserviste wat aan die betoging deelgeneem het, is deel van ʼn groot polisiereservistemag wat sy diens sonder enige vorm van vergoeding beskikbaar stel. Naidoo het gesê reserviste word soms vergoed wanneer hulle opgeroep word vir diens “op voorwaarde dat spesifieke operasionele behoeftes op provinsiale of stasievlak bestaan en dat dit voor die uitvoering van pligte goedgekeur is”.

Volgens Naidoo het die SAPD tot dusver al meer as 12 220 reserviste vas aangestel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.