Polisie rig waarskuwing ná 6 sterf

Argieffoto: Nico Strydom

Ses mans is oor die naweek in Gauteng dood nadat hulle na bewering aangerand en aan die brand gesteek is.

Kapt. Kay Makhubele, provinsiale polisiewoordvoerder vir Gauteng, het Maandag gesê die voorval het Saterdag in Diepsloot, noord van Johannesburg, plaasgevind.

“ʼn Groep inwoners van Uitbreiding 1 het in die vroeë oggendure na ʼn groep mans gaan soek wat daarvan beskuldig word dat hulle die inwoners in die omgewing terroriseer,” het Makhubele gesê.

“Hulle het een van die mans vasgetrek, hom aangerand en gedwing om te wys waar sy vriende skuil. By sy vriende se blyplek is daar verskeie goedere gevind soos skoene, rekenaars en selfone wat vermoedelik gesteel is.”

Ses mans is glo daarna in ʼn vigilante-aanval vermoor.

“Die polisie moes bystand ontbied en is na David Websterstraat ontplooi waar die mans vermoedelik deur die ontstoke inwoners aan die brand gesteek is. Die polisie kon daarin slaag om ʼn sewende mens se lewe te red.”

Die polisie ondersoek ses sake van moord.

Lt.genl. Deliwe de Lange, provinsiale polisiekommissaris, het die voorval ten sterkste veroordeel.

“Inwoners is al voorheen gewaarsku en word weereens gewaarsku om nie eiemagtig op te tree nie, ongeag hoe kwaad hulle mag wees. Ons het al verskeie kere ʼn beroep op inwoners gedoen om enige misdrywe by die polisie aan te meld en die polisiebeamptes toe te laat om dit behoorlik te ondersoek,” het De Lange gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Fred PRINSLOO ·

Saps Stel nie belang nie vir MEER as 2 jaar sukkel Ons met lede WAT drugs verkoop saps is dood

Sêmaarnet ·

Dit is die resultaat van ‘n onbekwame polisiemag wat die gemeenskap keer op keer gefaal het.

piet ·

Hul so besig om mense te arresteer wat in black monday deelgeneem het dat moordenaars nie gevang kan word nie. Hul word darm gewaarsku.

Kat ·

Dit kon jou van onbevoegde polisie.Dis al manier hoe die skelms gestop gaan word.Maar se bietjie hoe vergelyk dit met die doodskis saak? Hier is n paar mense gedood.Hoeveel tronkstraf gaan hulle kry indien enige?

MarieM ·

Hulle gaan nie Kat wat niemand het dit op ‘n selfoon opgeneem sodat die skuldiges uitgeken kan word nie. En al sou daar ‘n opname wees sal nie EEN van hulle tronkstraf kry nie.

Eugene ·

Maak net seker hulle word nie lewendig in ‘n doodskis gedruk vir” skrik op die lyf te jaag nie ” want dit sal hul menswaardigheid aantas. Moord is ‘n bysaak en sal nie veel reaksie by politisie en die howe uitlok nie.

Wonder maar net ·

Hier kan ons duidelik ‘n prentjie sien dat mense die doodstaf terug wil hê, vandaar die dat mense geregtigheid in eie hande neem, maar ons weet ook wie sal aan die korste end daarvan trek.

André ·

So wie gaan nou aangekla word van moord of gaan hulle skotvry daarvan afkom?

Buggs ·

Die doodstraf skrik niemand af nie – maar hiertoe tipe “justice” doen wel die ding. Ek keur dit nie goed nie, maar ons Polisie is oneffektief en ons regstelsel ‘n klug met dubbel standaarde. Soos die een jong vrou van Diepsloot gese het: die kriminele is in en uit die tronk soos iemand wat by Menlyn Mall gaan inkopies doen – sonder om parkering te betaal!

Leahim ·

Dit is wat gebeur as die polisie beheer verloor dan neem mense reg in eie hande en dit gaar erger word baie erger.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.