Polisie rou ná ses beamptes sterf

(Argieffoto: SA Polisie)

Die nasionale polisiekommissaris, genl. Khehla Sitole, het sy diepe medelye met die naasbestaandes van ses polisielede betuig wat Sondag in twee afsonderlike ongelukke gesterf het.

In die Oos-Kaap is vier beamptes dood toe hulle van die Chris Hani-distrik op pad huis toe was. Hulle was deel van ʼn span wat misdaadvoorkoming- en bewusmakingsveldtogte in die gebied gedoen het.

Brig. Vishnu Naidoo, nasionale polisiewoordvoerder, sê volgens die voorlopige ondersoek is die vier op slag dood toe die polisievoertuig waarin hulle gereis het naby Engcobo met ʼn vragmotor gebots het.

Die slagoffers is konst. Buqaqawuli Nyembezi (34), verbonde aan die Mount Ayliff-polisiestasie, konst. Frank Lila (35), ook verbond aan die Mount Ayliff-polisie, die 28-jarige konst. Lungelo Nogqala, verbonde aan die Sulenkama-polisiestasie en die 31-jarige Ntombikayise Landu. Landu was ʼn sekretaresse vir die distriksbevelvoerder in die Alfred Nzo-distrik.

ʼn Vyfde slagoffer het ook in die ongeluk gesterf. Die polisie het nie die persoon se naam bekend gemaak nie.

In ʼn afsonderlike voorval is twee beamptes verbonde aan die Harding-polisiestasie in KwaZulu-Natal ook Sondag dood toe ʼn voertuig hulle getref het.

Die twee was besig om ʼn ongelukstoneel vir leidrade te fynkam toe die voertuig hulle raakgery het, sê Naidoo.

Die 36-jarige sers. Alfred Gqumani en die 34-jarige konst. Sifiso Ngcobo het albei op die toneel gesterf.

“Die polisie het ʼn uiters gevoelige slag gekry weens die skielike dood van dié jong en geesdriftige lede. Die nuus van hulle ontydige dood het skokgolwe deur die gange van elke polisiewyk in die land gestuur,” sê Sitole.

“Ons wil hulle families bedank dat hulle toegelaat het dat hul kinders die land tot op die einde met toewyding gedien het.”

Polisiekapelane en -sielkundiges is na die slagoffers se families gestuur om hulle te ondersteun, asook na die lede wat die ongelukstonele waar hulle kollegas gesterf het, moes bywoon.

Besonderhede oor roudienste en begrafnisse vir die beamptes sal later bekend gemaak word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Kaal Keiser ·

…het Julias nie een of ander dreigement gemaak nie…

Casper ·

Hulle is nie aan die hand van geweld dood nie maar in ongelukke.Ek glo nie Malema het enige iets daarmee te doen nie.Baie hartsee en ‘n swart naweek vir SAPS.Sterkte aan hulle families.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.