Polisie rou oor twee se dood

Foto bloot ter illustrasie. (Argieffoto)

Die polisie is in rou gedompel nadat twee beamptes oor die Kersnaweek in afsonderlike voorvalle dood is.

Een van dié polisielede is doodgeskiet, glo deur haar kêrel, terwyl die ander beampte verongeluk het.

Brig. Tembinkosi Kinana, polisiewoordvoerder, sê konst. Phumla Mabindisa (47) is die afgelope naweek in die Oos-Kaap doodgeskiet. Sy het by die Cedarville-polisiestasie gewerk.

Mabindisa en haar kêrel was glo in ʼn onderonsie betrokke toe hy haar na bewering geskiet het. Haar liggaam is later die dag in ʼn kamer gevind.

“Die 39-jarige man is kort daarna in hegtenis geneem nadat hy glo selfmoord wou pleeg,” sê Kinana.

“Hy ontvang tans mediese hulp in die hospitaal en ʼn saak van moord word ondersoek.”

In ʼn afsonderlike voorval is kapt. David Bonga (52) dood nadat sy motor om ʼn skerp draai omgeslaan het. Bonga het by die Mount Frere-polisiestasie in die Oos-Kaap gewerk.

Volgens Kinana was Bonga vanaf Qumbu na Mount Frere op pad toe sy motor naby KuMntwana om ʼn skerp draai omgeslaan het.

“Hy is op die toneel dood verklaar. Die polisie ondersoek ʼn saak van strafbare manslag.”

Bonga was 27 jaar lank ʼn polisiebeampte.

Die provinsiale polisiekommissaris van die Oos-Kaap, lt.genl. Nomthetheleli Lillian Mene, het haar meegevoel met die families van Mabindisa en Bonga betuig. Sy het ook gesê dat die dood van die polisielede ʼn harde slag vir die polisiediens is.

“Ons is platgeslaan oor hierdie tragiese verlies. Die bedroefde families se verlies is ook ons verlies,” sê sy.

“Die polisiediens sal alles moontlik doen om te verseker dat hierdie gesinne bygestaan word terwyl hulle voorberei om hul geliefdes ter ruste te lê.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.