Polisie, rower raakgeskiet in rooftog

’n Oos-Kaapse polisiebeampte is Maandag ernstig in ’n skietery beseer. (Argieffoto: Maroela Media)

’n Oos-Kaapse polisiebeampte is Maandag ernstig beseer toe rowers onverwags op die polisievoertuig waarin hy gery het, losgebrand het.

Brig. Tembinkosi Kinana, polisiewoordvoerder, sê lede van die polisie was Maandagoggend vroeg besig om die N2 Idutywa-hoofweg te patrolleer toe hulle ’n oproep omtrent ’n rooftog by ’n onderneming in die omgewing ontvang het.

“Polisiebeamptes was op pad na ’n nabygeleë vulstasie ’n koeëlreën skielik om hulle uitgesak het.

“Terwyl die polisie verby die vulstasie ry, het die verdagtes steeds op hulle bly skiet.”

Kinana sê dat een van die twee polisiebeamptes in die bolyf getref en ernstig beseer is.

“Hy is in ’n ernstige toestand na ’n nabygeleë hospitaal gehaas.”

Polisiebeamptes wat na die toneel ontbied is, het op onder meer patrone en patroondoppies afgekom.

“Agt verdagtes het in verskillende voertuie gevlug en is deur die polisie agternagesit.

“’n Skietery het tussen die verdagtes en die polisiebeamptes uitgebreek, waarna ses in hegtenis geneem is. Een van dié verdagtes is in die skietery gewond en na ’n hospitaal geneem.”

Volgens Kinana het die polisie op drie vermoedelik gesteelde voertuie, ’n vuurwapen en ammunisie, breekysters, ’n kluis en geld beslag gelê.

Sake van poging tot moord, die besit van onwettige vuurwapens en ammunisie, die besit van gesteelde voertuie en goedere asook sakeroof is aanhangig gemaak en word tans ondersoek.

“Die verdagtes sal eersdaags in die landdroshof in Tsolo asook Idutywa verskyn.”

Die polisie soek tans na die ander twee verdagtes.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

8 Kommentare

jongste oudste gewildste
Kokerboom

Kan die Polisie asb nie meer skerpskutters oplei? Kan so verspilde kostes vir ekonomie verminder.

Frank

Poging tot moord, niks minder nie.

Persheks Adri

Nog ‘n paar onwettige wapens van die straat af. Hoop net nie die polisie verkoop dit nie…

Nie Verbaas

Kan hoed nog nie agterkom dat daar absoluut geen respek meer vir polisie is nie.

Althes

Die SAPD se tande is getrek, misdadigers is vreesloos.
Sterkte aan die polisiebeamptes, ek hoop word te volle gesond en herstel van die trauma.