Polisie sal by Malamulele ingryp

'n Gebou by 'n hoërskool in Malamulele is Maandagaand, 2 Februarie 2015 moontlik aan die brand gesteek Foto: Twitter

‘n Gebou by ‘n hoërskool in Malamulele is Maandagaand, 2 Februarie 2015 moontlik aan die brand gesteek Foto: Twitter

Die polisie sal ingryp in Malamulele, Limpopo, sodat klasse en dienste kan hervat ondanks onrus in die gebied, het die minister van polisie se kantoor Dinsdagaand gesê.

“Die minister het die polisie aangesê om in die informele nedersetting in te beweeg en versperrings te verwyder, het minister Nkosinathi Nhleko se woordvoerder, Musa Zondi, in ʼn verklaring gesê. “Die polisie sal ook die kriminele agter die betogings in hegtenis neem om seker te maak dat leerlinge kan terugkeer skool toe.”

Betogers het die dorp afgesper en eis ʼn aparte munisipaliteit ná klagtes oor swak diens van die Thulamela-munisipaliteit. Die Munisipale Afbakeningsraad het reeds ʼn voorstel vir ʼn aparte munisipaliteit verwerp.

Nhleko het gesê ʼn abnormale situasie soos dit wat tans by Malamulele gebeur, mag nie die norm word nie. “Diegene wat kinders verhoed om skool toe te gaan is nie net teen ontwikkeling nie, maar hulle oortree ook die wet ingevolge die Skolewet. Die anargie mag nie voortduur nie en die polisie sal enigiemand in hegtenis neem wat die wet oortree,” het hy gesê.

ʼn Bedryfsentrum is in Malamulele opgerig en Nhleko sal glo vir die res van die week daar bly om die vooruitgang te monitor.

“Die minister het dit benadruk dat vreedsame betogings ʼn reg is vir alle Suid-Afrikaners, maar hierdie reg kan nie uitgeoefen word ten koste van persone wat wil hê hul kinders moet met hul opleiding voortgaan of wat toelaes benodig om hul gesinne te voed en aan ander behoeftes te voldoen nie,” het Zondi gesê.

Lees alle vorige berigte oor Malamulele op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Asjas ·

Ek het slegte nuus vir julle. Julle kan ‘n munisipaliteit op elke straat hoek kry maar dit gaan niks verander nie!

Paul ·

Geen mens weet in elk geval waar die plek is nie, so belangrik kan dit tog nooit wees nie.

Ghost ·

N vreedsame betogings ʼn reg is vir alle Suid-Afrikaners, maar hoe veel van die optogte is regtig vreedsaam. Daar word altyd goed beskadig, afgebreek ens.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.