Polisie sal ingryp as BLF joernaliste teister

Andile Mngxitama. Foto: ANA

Fikile Mbalula, die minister van polisie, het Saterdag die hofuitspraak verwelkom ten gunste van die Suid-Afrikaanse Nasionale Redakteursforum (Sanef) teen Black First Land First (BLF).

“Die hof bly ons laaste arbiter om geskille op te los en hul besluite moet gerespekteer word,” het hy in ʼn verklaring gesê. “Ons moet die wet onderhou en ons verwag van almal om die hofuitspraak te respekteer. Die polisie sal nie huiwer om op te tree teen diegene wat die besluite van die hof wil ondermyn nie.”

Mbalula het die belangrikheid van betrokkenheid in die demokrasie benadruk. “Dit maak nie saak hóé hoog die spanning loop tydens gesprekke nie, dit moet altyd binne die raamwerk van die wet gebeur. Geen intimidasie of teistering kan gebruik word om diegene stil te maak van wie jy verskil nie.”

Die minister het lede van BLF versoek om op te hou om lede van die media te teister en te intimideer en die hofuitspraak te respekteer. “In ʼn demokratiese Suid-Afrika is persvryheid een vryheid wat ons vier. Ons het almal ʼn plig om hierdie vryheid te beskerm,” het hy gesê.

“Joernaliste kan nie en mag nooit stilgemaak word nie. Hulle vorm ʼn noodsaaklike deel van ons demokrasie, hulle lig in en voed ons mense op. Hulle is die stem vir diegene sonder ʼn stem en benadeelde Suid-Afrikaners,” het Mbalula bygevoeg.

Hy het Suid-Afrikaners verseker dat stappe gedoen sal word teen diegene wat ons demokrasie wil ondermyn. “Die polisie het ʼn plig om alle burgers te beskerm. Niemand het ʼn reg om voor enigiemand se privaat woning te betoog nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Grassie ·

Daardie karikatuur (korrekte spelling) op die foto kry baie meer media-aandag as wat hy werd is.

fosfos ·

fikile ek is so bly jy gaan diegene wat nie hofuitsprake respekteer nie, opm•€®. begin asb met neef Malema wat sy g@t afvee aan die hofuitspraak om nie mense tot grondgryp op te sweep nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.