‘Polisie se agterstand met DNS-toetse al groter’

(Foto: Unsplash)

Die DA het die nasionale polisiehoof, genl. Khehla Sitole, gevra om dringend vennootskappe met private laboratoriums aan te gaan om die agterstand met DNS-monsters by die nasionale forensiese wetenskaplaboratoriums uit te wis.

Volgens Andrew Whitfield, die DA se woordvoerder oor polisie, staan die agterstand nou op 117 736 monsters.

Die DA is reeds geruime tyd bekommerd oor die agterstand met die verwerking van DNS-monsters en het die kwessie onder meer in die portefeuljekomitee oor polisie geopper. Die party het gevra vir omvattende terugvoer van die polisie en die laboratoriums.

Die komitee het op 11 November, bykans ʼn jaar nadat kommer daaroor aanvanklik gelug is, ʼn voorlegging ontvang.

“Hoewel ʼn omkeerplan in daardie vergadering voorgelê is, het die komitee ernstige bedenkinge gehad oor die kwessie of dit haalbaar is, gegewe die uitdagings met kapasiteit, beperkings wat Covid-19 op die werkplek plaas en die feit dat geen kontrakte nog aangegaan is nie,” het Whitfield gesê.

Hy sê dit is duidelik dat die polisie die verkrygingproses wanbestuur het en dat dit gelei het tot die ontwrigting van die toekenning van kontrakte – wat toetsing nou tot stilstand gebring het.

Voorraadtekorte, wat reeds aandag geniet, is sedert die tweede kwartaal van die 2019-’20-boekjaar ʼn probleem. Whitfield sê daarsonder kan geen toetse gedoen word nie.

“Om sake te vererger het die polisie toegelaat dat die instandhoudingskontrak vir sensitiewe robotika en ander spesialistoerusting in die Wes-Kaap verval. Die masjinerie kan nie gebruik word totdat dit op die korrekte standaard gekalibreer is nie.”

Hy sê die polisie moet dringend vennootskappe met goed toegeruste private laboratoriums aangaan om te help waar moontlik, sodat die agterstand met DNS-toetse ingehaal kan word.

“Elke dag kom meer en meer DNS-saakmonsters by ons laboratoriums aan en elke dag word die agterstand net groter. Die slagoffers en families ly terwyl hulle wag vir antwoorde, terwyl die oortreders van geweldsmisdade vry rondloop en in talle gevalle nog misdaad pleeg.”

Whitfield sê DNS is een van die belangrikste wapens in die strafregstelsel se arsenaal en dat dit ʼn prioriteit gemaak moet word om te verseker agterstande soos dié gebeur nooit weer nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Hennie J ·

Hoedman en sy kaders bewys net weer hoe onbevoeg die anc is en hoe alles in piesangland tot in die afgrond getransformeer is. Geregtigheid is vir hulle n bysaak.

Marcello ·

Dit sal gaaf wees as hulle dit kan doen. “n Vriendin van my se dogter is sowat 2 jaar gelede dood aan onatuurlike oorsake, daar is vir die Ma gesê: Dit kan tot 5jaar vat voor sy die uitslag kry. Intussen staan op die doodsertifikaat: “still pending”.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.