Polisie se duur e-dossierstelsel werk nie behoorlik

Argieffoto (Foto: ar130405/Pixabay)

Die polisie se geïntegreerde dossierbestuurstelsel wat teen ʼn koste van net meer as R613 miljoen by polisiestasies en howe in werking gestel is, word glad nie doeltreffend gebruik nie.

Albert Fritz, LUR vir gemeenskapsveiligheid in die Wes-Kaap, het pas die departement se bevindings oor die assessering van die dossier-argiefstoor ontvang.

Fritz sê die assessering is tussen Julie en September verlede jaar gedoen en het onder meer die standaardbedryfsprosedures by 11 polisiestasies in die provinsie gemonitor. Gebiede wat deur dié stasies bedien word, loop veral kwaai deur onder moord en bendegeweld. Die doel van die assessering was om vas te stel of die gebruik van die e-dossierstelsel enigsins bydra om die Wes-Kaap te help beveilig.

“Ons grootste prioriteit is die veiligheid van elke Wes-Kaapse inwoner. Dit is om daardie rede dat ons wil verseker dat die polisiediens – en sy stelsels – behoorlik werk,” het Fritz verduidelik.

Die geïntegreerde dossierbestuurstelsel is in 2017 by 1 153 (80%) polisiestasies landwyd, asook by 509 van die land se 627 howe in werking gestel. Die stelsel het sowat R613,5 miljoen beloop en genereer e-dossiere wat hoofsaaklik deur speurders gebruik word. Die doel daarvan is om te verseker dat daar nie met dossiere gepeuter word, of dat dossiere voete kry nie. Dit is ook veronderstel om te help met die bestuur en administrasie van strafsake, ondersoeke en navrae van die oomblik wat ʼn dossier geopen word, tot wanneer dit gesluit word.

Dit moet ook inligting van ander rolspelers in die strafregstelsel, soos die departemente van binnelandse sake, maatskaplike ontwikkeling en justisie, asook die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) bevat.

Die studie het onder meer gevind dat:

  • 90,9% van amptenare wat by die dossier-argiefstoor aangestel is, se agtergrond nie nagegaan is voordat hulle toegelaat is om sensitiewe inligting te verwerk nie;
  • 72,7% van speurders nie behoorlike opleiding ontvang het om die stelsel te gebruik nie;
  • 62,9% van dossiere in die dossier-argiefstoor verlore geraak het en geen tugstappe teen enigiemand gedoen is nie;
  • 14,3% van dossiere in howe verlore geraak het; en
  • geen van die 11 polisiestasies se stelsels gekoppel is aan dié van departemente soos justisie of korrektiewe dienste nie.

“In dié stadium is daar ʼn wanbestuur van inligting van die oomblik dat ʼn polisiebeampte ʼn dossier skep, tot wanneer ʼn persoon op parool vrygelaat word,” het Fritz bygevoeg.

Ronald Lamola, minister van justisie, het Woensdag ook hierna verwys toe hy gesê het sy departement gaan voortaan saam met die departemente van maatskaplike ontwikkeling en binnelandse sake, asook die polisie werk om inligting oor misdadigers, hul slagoffers en gemeenskappe te versamel wat in die paroolbesluitnemingsproses gebruik kan word.

Fritz het gesê die staatsdepartemente wat betrokke is in die proses moet verseker dat inligting beter versprei word sodat parool nie toegestaan word aan diegene wat nie werklik daarvoor kwalifiseer nie.

“Die stelsel wat dié proses rig, moet meer doeltreffend gemaak en beter gekoördineer word. Indien dit korrek gebruik word, kan die stelsel ʼn kragtige stuk toerusting wees om te verseker dat wanneer ʼn dossier by ʼn aanklaer uitkom, dit ál die nodige inligting bevat om te verseker dat ʼn oortreder nie weens ʼn gebrek aan bewyse net oor die vingers getik word nie,” het Fritz gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

8 Kommentare

jongste oudste gewildste
SomeOne

waar in suid afrika is daar stelsels wat werk, wat nog van opgeleide personeel, alles in sa is vervalle en met die nodige omkoop geld sal die stelsel ook ‘n flop wees

Pieter J

Ek wonder wie moes die stelsel vir die polisie implementeer. In die geval van sulke groot stelsels moet daar bevoegde mense in beheer wees om dinge reg te laat verloop.

Sarel

Wat antwoord Cele of is hy te besig om.diec” ordinary citizens” te ontwapen.

Hennie

Iemand het weer n huisie by die see gekoop met daai almintige bedrag geld. Bedrog is mos n “victimless” crime!

Doreen

mag ek vra wat werk in ons wonderlike land?