
Bimbo en nog ander honde is die naweek dood weens katgriep. (Foto: Verskaf)
Altesaam 75 klein hondjies is reeds dood nadat katgriep sowat twee maande gelede by die SAPD-hondeskool in Roodeplaat in Pretoria-Noord uitgebreek het.
Dié dodelike virus is na bewering vroeg in September aan die Nasionale Dierebeskermingsvereniging (DBV) gerapporteer, nadat talle hondjies sedert Augustus in die teelafdeling begin vrek het. Dié afdeling huisves tans sowat 200 hondjies.
Volgens Renate Barnard, voormalige luitenant-kolonel in die polisie en tans sektor-koördineerder by Solidariteit, is die mis van die honde vir ontleding na Onderstepoort Veterinêre Akademiese Hospitaal in Pretoria gestuur, waar katgriep bevestig is.
“Dit is ondenkbaar om te sien hoe klein weerlose hondjies om jou doodgaan en jy niks daaraan kan doen nie,” sê Barnard.
Barnard het Dinsdag aan Maroela Media gesê dat die polisie sy plig versuim het om die honde op ses weke teen die parvovirus (katgriepvirus) in te ent, soos deur die wet vereis. “Die nodige entstof is nie aangekoop nie,” sê sy. Die rede vir die uitbreking van die virus kan egter nog nie bepaal word nie. Brig. Vish Naidoo, nasionale polisiewoordvoerder, sê die polisie is tans besig om ondersoek in te stel om te bepaal of daar enige nalatigheid aan die polisie se kant was.
Hy sê die polisie was in staat om sowat 160 honde te red, maar wou nie sê hoeveel hulle van kant moes maak nie. “Die honde se omstandighede word ook noukeurig gemonitor om verspreiding van die virus te voorkom,” sê Naidoo.
Volgens Barnard ly die polisie se reputasie groot skade na dié uitbreking. Sy is ook van mening dat die voorval verdere nagevolge vir die polisie kan inhou, deurdat die virus verder kan versprei.
“Die reputasie-skade is geweldig groot en die trauma van die lede wat hul lewens aan hierdie diere toewy, nog groter.”
O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.
29 Kommentare
Polisie honde, weermag perde…. Kan niemand ‘n plan maak nie????. Diere moet GLAD nie meer gebruik word nie, want die staat kan nie (veral diere) sorg nie. Dit is wreed om enige dier in die hande van die regering te laat. MAAK ‘N PLAN ASB!!
Hulle voel vere vir mense hoekom sal hulle nou omgee vir diere!
Daar is geen geld en morele plig om die honde te ent nie, maar die Zondo-kommissie kos al oor die R350 miljoen en gaan voort. Die regering beter hul prioriteite reg kry, God slaap nie. Dalk is die moordende droogte juis ‘n vingerwysing na die korrupte en slegte bestuur van hierdie mooi land. Droogtehulp van die regering is daar nou ook nie werklik nie.
Wat se reputasie??? Pateties verby!!!! Maak my woedend!!!
Hulle is net eenvoudig nie in staat tot enige denke, gevoel, empatie, of tussen reg of verkeerd nie!