Polisie se klagte-waghond losgemaak van regering

Genl. Bheki Cele, minister van polisie (Foto: ANA)

Wetgewing wat tans voor die parlementêre portefeuljekomitee oor polisie dien sal die waghondliggaam wat moet sorg dat die polisie binne die wet optree, tande gee deur dit grootliks van die leisels van die staat te bevry.

Die Onafhanklike Polisie-ondersoekdirektoraat (Opod) is die liggaam wat gevalle ondersoek wanneer die polisie onwettig of onbehoorlik opgetree het, en die nuwe wetgewing volg op twee belangrike hofuitsprake – die een in die konstitusionele hof en die ander een in die suksesvolle hofsaak wat die hoof van die Ekurhuleni-metropolisie, Robert McBride, teen sy gepoogde afdanking gebring het.

Die voorgestelde veranderings sal Opod se bande met die polisie asook die minister van polisie losmaak sodat dit werklik onafhanklik sal wees. Indien die wetgewing aanvaar word sal die hoof van Opod in die vervolg deur die parlement aangestel word vir ‘n vasgestelde en nie-hernieubare periode waarvan die duur tans lyk of dit sewe jaar sal wees, hoewel debat daaroor nog voortduur.

Indien dit die geval is, sal dit Opod se toekomstige struktuur in hegte ooreenstemming bring met die van die artikel 9-instellings wat grondwetlik die mandaat het om die demokrasie te bevorder.

‘n Verdere ooreenkoms tussen die voorgestelde nuwe Opod-wetgewing en die art. 9-instellings is dat die hoof van Opod deur die parlement aangestel en gemonitor sal word, wat die rol van die minister van polisie grootliks sal wegneem.

Dit is reeds deur ‘n wye verskeidenheid insette van gemeenskapsorganisasies verwelkom, maar vanoggend was die regsverteenwoordigers van die minister van polisie, Bheki Cele, bra dikmond daaroor.

Hulle het gekla dat sommige van die voorleggings oor Opod se toekoms nie aan Cele se kantoor voorgelê is vir kommentaar nie. Terselfdertyd het hulle nie vandag juis – behalwe nou vir die voorgenome klaery – enige insette oor die inhoud van die voorleggings gelewer nie.

Die portefeuljekomitee sit tans sy besprekings van die insette oor die wetsontwerp voort, waarna dit na die Nasionale Vergadering en die Nasionale Raad van Provinsies verwys sal word vir debatvoering, aanvaarding of verwerping.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

John ·

Die oom sit nou hoed-in-die-hand met Opod wat die septer se swaai reguleer.

Teacup ·

Nou verstaan ek nie .. hulle se hy kan deur die parlement aangewys word .so het die regering niks te doen met die parlement nie? Dalk verstaan ek nie lekker politiek nie . of is net blond .. die is ‘n storm in ‘n teekoppie ..

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.