Polisie se magsmisbruik in geregtelike doodsondersoek teengestaan

V.l.n.r. Wico Swanepoel, Andrew Leask, Phyllis Vorster, Slang Maangwale, Gerrie Nel, Anthony Sehas (Foto verskaf)

Die geregtelike doodsondersoek na die dood van Solomon (Solly) Nengwane is vandag in die landdroshof in Brits vir 20 tot 23 September op die hofrol geplaas.

Adv. Gerrie Nel, hoof van AfriForum se privaatvervolgingseenheid, tree namens Nengwane se familie in hierdie ondersoek op. Die persone van belang is agt senior polisiebeamptes onder wie se toesig die slagoffer in 2006 in aanhouding oorlede is. Dit volg nadat Nengwane se familie die privaatvervolgingseenheid genader het om hulp omdat niemand ná 17 jaar nog vir sy dood aanspreeklik gehou word nie.

Die persone van belang het nie vandag by die hof opgedaag nie. Hulle is egter gewaarsku om op 9 Junie 2021 in die hof te verskyn wanneer hulle ’n aansoek bring om adv. Nel te verhinder om namens die Nengwane-familie op te tree. Dié aansoek spruit daaruit dat Ntebo Jan Mabula (een van die persone van belang) die beampte is wat adv. Nel in 2008 in hegtenis geneem het te midde van die vervolging van Jackie Selebi. AfriForum sal hierdie aansoek teenstaan.

Nengwane is een van vyf persone wat in 2006 in hegtenis geneem en deur die polisie ondervra is nadat miljoene Amerikaanse dollar – asook dwelms – uit ’n Benoni-polisiestasie gesteel is. Die agt persone van belang in die geregtelike doodsondersoek was destyds deel van die taakspan wat die saak ondersoek het.

Die gesteelde geld en dwelms is egter nooit gevind nie en verskeie getuies in hierdie saak het luidens mediaberigte onder verdagte omstandighede verdwyn. Nengwane is op 6 Junie 2006 oorlede nadat hy deur die persone van belang in hegtenis geneem is. Die amptelike weergawe is dat die polisie vir Nengwane na die Dr. George Mukhari-hospitaal geneem het en dat hy reeds oorlede was toe hulle by die hospitaal aangekom het. Die polisie het sy liggaam by die hospitaal gelos.

“Dit is betreurenswaardig dat Solly Nengwane se familie steeds ná byna twee dekades wag dat geregtigheid moet geskied, asook op antwoorde oor wie vir sy dood verantwoordelik gehou kan word,” sê Wico Swanepoel, prokureur by AfriForum se privaatvervolgingseenheid. “AfriForum staan polisiemagsmisbruik teen. Die feit dat Nengwane in polisieaanhouding oorlede is, skep vraagtekens oor die betrokke polisielede se optrede in hierdie saak. AfriForum se privaatvervolgingseenheid sal daarom met hierdie saak voortgaan, om toe te sien dat geregtigheid wél geskied.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Hennie J ·

Daar word altyd met groot gejuig aangekondig dat adv. Nel vir die of daai saak optree. Ons moet maar duimvashou hy kry nie weer bloedneus nie.

Tiptol ·

Ek wonder wie het nog respek vir die polisie en wie vertrou hulle nog.

Madz ·

Ek dink die uiteinde van DIE hang baie af hoeveel konneksies die “persone van belang” met die huidige regering het…. toutjies word steeds getrek as daar op sekere tone getrap word.

Jack ·

Wel die feit dat n afrikaner organisasie nou skielik ook namens ander bevolkingsgroepe optree is n pluimpie vir hul suksesse. Dit sal nog die verskil in die land maak en as die organisasie nie deur die anc verban word nie sal dit van krag tot krag gaan. Mooi man.

Busy Body ·

Afriforum was nog nooit politiek of rassisties gedrewe. Hul baklei vir reg en geregtigheid. Trots op hulle. In die saak verdien die familie geregtigheid om vrede te kry.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.