Polisie se maskerverskaffer skuldig aan hemelhoë pryse

Argieffoto bloot ter illustrasie. (Foto: SAPD/Facebook)

Die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) se gesigsmaskerverskaffer het homself daaraan skuldig gemaak dat hy gesigsmaskers teen hemelhoëpryse aan die SAPD verkoop het toe hy in 2020 inderhaas maskers in die hande moes kry.

Die mededingingstribunaal van Suid-Afrika het Donderdag Tsutsumani Business Enterprises hieraan skuldig bevind en die sakeonderneming gelas om ʼn administratiewe boete van R3,4 miljoen te betaal. Hierdie boete is binne 30 werksdae betaalbaar.

Die mededingingskommissie het vroeër Tsutsumani daarvan beskuldig dat hy die SAPD buitensporige pryse in April 2020 laat betaal het vir die dringende verskaffing van 500 000 drielaag chirurgiese gesigsmaskers.

Hierdie dringende versoek was genoodsaak deur die aanvang van die Covid-19-pandemie en die nasionale ramptoestand wat vereis het dat alle SAPD-personeel ʼn masker moes dra. Die SAPD het tydens die streng inperkingstyd nege miljoen maskers per maand vir sy lede benodig.

Tsutsumani het die bewerings dat hul pryse opgeblaas is, ontken.

“Ná baie beraadslaging het die tribunaal tot die gevolgtrekking gekom dat Tsutsumani gedurende die klagtetydperk dominant was in die mark vir die noodverkryging van maskers deur die SAPD,” sê Gillian de Gouveia, woordvoerder van die tribunaal.

Tsutsumani was een van die verskaffers wat op die nasionale tesourie se sentrale verskaffersdatabasis geregistreer was en die enigste een wat aan die SAPD se vereistes voldoen het om die maskers in ʼn baie kort tydperk te verkry.

“Tsutsumani het gevolglik in stryd met die Mededingingswet, gelees met regulasie 4 van die Verbruikersbeskermingsregulasies, opgetree soos beweer deur die kommissie in sy klagverwysing.”

Die tribunaal se redes vir die skuldbevinding sal mettertyd aan die publiek beskikbaar gemaak word.

Volgens De Gouveia is hierdie saak die eerste van sy soort waarin buitensporige pryse in die konteks van ʼn tenderproses tydens die pandemie deur die kommissie na die tribunaal verwys is.

“Dit is ook die eerste saak wat ingevolge die Verbruikersbeskermingsregulasies bepaal moet word.”

Bewerings oor onreëlmatige tenders doen al sedert die aanvang van die pandemie die ronde. Die meeste van dié tenders hou verband met die verskaffing van persoonlike beskermingstoerusting aan staatsentiteite.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.