Polisie sê oor bewerings rondom Klinkenberg-moord

Robert Klinkenberg. Foto: Twitter

Die SAPD in die Wes-Rand het gesê bewerings dat ʼn verdagte in hegtenis geneem is in verband met die moord op Robert Klinkenberg (46), ʼn bekende prokureur in Roodepoort in Gauteng, is nie waar nie.

Dit volg nadat ʼn plaaslike gemeenskapskoerant Donderdag berig het die polisie het “ʼn deurbraak gemaak in die Klinkenberg-saak” deur die inhegtenisneming van ʼn man op aanklag van die onwettige besit van ʼn vuurwapen. Die koerant berig die man se inhegtenisneming hou met Klinkenberg se moord verband.

Kapt. Appel Ernst, woordvoerder van die polisie, het die bewering ten sterkste ontken. Sy het aan Maroela Media bevestig dat ʼn 43-jarige man Dinsdag in hegtenis geneem is op aanklag van die onwettige besit van vuurwapens en hy het Woensdag in die Krugersdorp-landdroshof verskyn. Die saak is tot Dinsdag uitgestel wanneer die beskuldigde om borgtog sal aansoek doen.

“Die beriggewing [van die koerant] dat die persoon in hegtenis geneem is vir moord is van alle waarheid ontbloot,” het Ernst gesê.

“Dit moet duidelik gestel word dat die persoon nié ʼn beskuldigde is in die moord op wyle mnr. Klinkenberg nie. Hy is ʼn persoon van belang aangesien hy ʼn sakeverhouding met die oorledene gehad het. Die ondersoekbeampte stel dit uitdruklik dat alle mense wat sake gedoen, vriendskapsbande gehad het of self kollegas van die oorledene was, as persone van belang beskou word.”

Sy het gesê bespiegeling en onjuiste beriggewing in die media is tot nadeel van die polisie se ondersoek na die saak.

Maroela Media het vroeër berig Klinkenberg se liggaam is op 3 Desember 2015 in ʼn veld in Magaliesburg gevind. Hy het ʼn paar meter van sy motor af gelê met ʼn skietwond in sy kop. ʼn Vuurwapen is langs sy liggaam gekry. Die polisie het aanvanklik die voorval as ʼn selfmoordgeval ondersoek, maar later gesê die uitslae van die nadoodse ondersoek het die polisie genoop om die geregtelike doodsondersoek na dié van ʼn moordsaak te verander.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

John ·

?… duidelik ‘n baie slim moordenaar? Miskien is ‘skerppunt’ speurders nodig wat uit die boks dink. Hierdie prokureur moes baie mense geken het. Vir wie het hy ‘n bedreiging geword? Of was hy ‘n baie magtige man wat toutjies kon trek?

tee ·

wonder mos nou? saps hak altyd vas op selfmoord, hulle te lui om te kyk en te dink, nou is al die leidrade vertrap en nou gaan hulle vir volgende jare met onopgeloste saak sit? aan wie het vuurwapen behoort? hoe lyk die man se trust rekening? wie het hy geld geskuld? jis regtig en in meer as 2 jaar weet hulle nog niks!!!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.