Polisie sê oor ‘byna-ontvoering’ in Pta-winkelsentrum

‘n Skermskoot van die valse bewerings wat op sosiale media versprei word.

Die SAPD het Maandag gereageer op bewerings wat op sosiale media die ronde doen dat ʼn vrou byna by ʼn bekende winkelsentrum ontvoer is nadat sy glo in die badkamer van die sentrum bedwelm is.

Kapt. Colette Weilbach, woordvoerder van die polisie, het gesê die boodskap het onder die SAPD se aandag gekom nadat dit wyd op sosiale media versprei is. Volgens die boodskap het die voorval “met ʼn niggie van een van die skrywer se suster se vriende” gebeur.

Die boodskap verduidelik dat die vrou en haar kêrel die Brooklyn-winkelsentrum besoek het en by ʼn bekende restaurant daar geëet het. Die vrou het kamstig die badkamer in die winkelsentrum besoek en toe sy te lank wegbly, het haar kêrel gaan ondersoek instel. Volgens die boodskap het hy by sy aankoms by die badkamer gesien hoe “ʼn Nigeriese vrou iemand in ʼn rolstoel uit die badkamer stoot”.

“Hy het gesien dat die persoon in die rolstoel dieselfde skoene aan het as sy meisie. Hy het nader gestap, haar hare uit haar gesig gevee en gesien dit is sy meisie. Sy is bedwelm, haar hare is gesny en gekleur en haar klere is in die badkamer verander. Die Nigeriese vrou het weggehardloop. Die polisie sê hulle is redelik seker dat sy mensehandelslagoffer sou word,” lui die boodskap.

Weilbach het gesê die polisie het geen klagtes van die aard ontvang nie en daar is ook geen sodanige voorval by die Brooklyn-winkelsentrum se bestuur of veiligheidswagte aangemeld nie.

“Die SAPD versoek die publiek om versigtig te wees om nie ongeverifieerde inligting op sosialemediaplatforms te publiseer nie, omdat dit paniek in gemeenskappe kan veroorsaak. Polisiehulpbronne en tyd, asook hulpbronne van die Brooklyn-winkelsentrum is gemors om hierdie valse bewerings na te gaan,” het Weilbach gesê.

Sy het die publiek herinner dat enige misdade by die polisie aangemeld moet word by 08600 10111 of by die Brooklyn-misdaadkantoor by 012 366 1741/2. ʼn SMS kan ook anoniem na 32211 gestuur word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

20 Kommentare

Anita ·

“met ‘n niggie van een van die skrywer se suster se vriende” = duidelike teken van ‘n snert storie.

RINA ·

Dit is mos nou hoe ‘n URBAN LEGEND begin. Dit gebeur nooit met die verteller self nie maar altyd iemand van iemand wat hulle ken.

Oom Piet ·

Hoe het haar kerel geweet dat dit ‘n “Nigerian lady” is wat haar probeer ontvoer het.

Speedguard ·

Wolf-Wolf en dit is waarom die owerhede so traag is want soms moet hul op vertraagde aksies reageer !!! Daar is eenvoudig nie medikasie vir die mense nie !

Lizelda Jv Rensburg ·

Ai, mense darem dat jy so verveeld is om soveel twak kwyt te raak net om n paar “likes” te kry of om paniek te saai. Die storie het so 15 jaar gelede die rondtes gedoen ook by n bekende winkelsentrum met babas, Ouers was so bang om hulle kinders na winkelsentrums te neem na die storie versprei het. Wens mense kan hulle spaar tyd eerder gebruik om n verskil id gemeenskap te maak.

snoefie ·

ai mense. hoekom flankeer julle met die waarheid? die beskrywing hierbo gaan al jare rond op sosiale media as die manier waaroo kinders ontvoer word. sies! hou oo oaniek saai veral met blatante leuens. ons lewensomstandighede is lankal reeds nie ideaal nie.

Kameras ·

As die mall kameras het, kan dit baie vinnig as feite of nonsens afgemaak en bewys word. Probleem is dat my kar was by die einste sentrum gestamp en om een of ander onverstaanbare rede is daar nie kameras in die parkeerarea waar ek parkeer het nie en hulle kon niks vir my doen nie. Dis n fout om nie baie kameras te he nie, dis goedkoop deesdae en baie effektief om misdaad te voorkom.

Skerpioen ·

As mense hulle Bybels wil lees en glo soos wat hulle alles op Twitter en Facebook lees en glo sal die wereld ‘n beter plek wees.

Leoni ·

Sjoe .. die dame was seker ‘n haarkapster .. met SPOED …. Ek on nog nooit ‘n knip en kleur is SO kort tyd kry nie

Blik ·

Ek het ook die boodskap gesien en gewonder hoekom sy nie die badkamer in Moo-Moo’s gebruik het nie en wie kleur so vinnig hare. Alhoewel hierdie storie nou nie waar is nie, sien dit maar as ‘n herinnering daaraan om altyd ORALS op jou hoede te wees…want sulke aaklige dinge kan wel gebeur!

anoniem ·

Dis onmoontlik om iemand te bedwelm hare te sny en te kleur in net ‘n paar minute..heel duidelik is dit ‘n storie..

Tina ·

Toe ek lees die ‘boyfriend’ het gesien die persoon in die rolstoel het dieselfde skoene as sy meisie aan, toe weet ek dit is snert. Hoeveel mans let op wat se skoene hulle meisies/ vrouens dra? En ja, soos party hier sê, om so vinnig hare te kleur? Wow, lol.

Ann ·

Jy sal verbaas wees oor hoeveel mans so iets oplet. Ek weet van ñ man wat ñ absolute obsessie het oor sy vrou se skoene. Dis nie onwaarskynlik nie.
Ek neem ook maar die storie met ñ knippie sout …

Leahim ·

Gee dit vir die sa polisie sodat hulle soos gewoonlik hulle eie stert jaag met die ondersoek.

Anti-Leahim ·

Ag asseblief tog. Jy is te bang om by die polisie aan te sluit. Bly eerder stil.

Sannette Janse van Rensburg ·

Waar kry mense die tyd om hierdie bull uit te dink? Regtig waar?

Blom ·

Wolhaarstorie! Sit fotos van hare by en getuienis dan sal ek dit dalk sluk..

Lizelle ·

Ek dink nou net, verbeel jouself jy stap in ñ badkamer in en hier lê ñ vrou half bewusteloos met ñ persoon wat hier aan haar hare knip en kleur.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.