Polisie sê oor misdaadintelligensiehoof

Lt.genl. Lesetja Mothiba, waarnemende nasionale polisiekommissaris Foto: Elmond Jiyane, GCIS

Die Suid-Afrikaanse Polisiediens het Dinsdag ʼn aankondiging gedoen oor die waarnemende hoof van misdaadintelligensie, genl.maj. Pat Mokushane, nadat die media Maandag berig het Mokushane is afgedank.

Genl.maj. Sally de Beer, nasionale woordvoerder van die polisie, het Dinsdagoggend in ʼn verklaring gesê lt.genl. Lesetja Mothiba, waarnemende nasionale polisiekommissaris, het besluit “dit is raadsaam om in belang van dienslewering” self toesig oor die funksies van die misdaadintelligensie-eenheid te hou.

Mokushane is dus teruggeskuif na sy permanente posisie as die provinsiale hoof van beskerming- en veiligheidsdienste in die Noord-Kaap. Die nuwe reëling is onmiddellik van krag.

Mothiba se besluit kom ná omstredenheid rondom Mokushane, onder meer bewerings dat hy geld van misdaadintelligensie misbruik en sy eie ondernemings uit sy polisiekantoor bedryf het. Mothiba het verlede week aan LP’s gesê die bewerings word ondersoek en ʼn verslag sal na verwagting hierdie week uitgereik word. Die SAPD het egter niks oor dié verslag in hul verklaring gesê nie.

Mothiba het Mokushane bedank vir sy werk die afgelope paar maande.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.