Polisie sê oor ‘ontvoerings by skole’

Argieffoto

Die Suid-Afrikaanse Polisiediens het vandeesweek gesê bewerings wat op sosiale media die ronde doen dat kinders by skole en kleuterskole in Pretoria ontvoer is, is onwaar.

Daar is tans verskillende inskrywings van dié aard wat op sosiale media versprei word, maar in een van die inskrywings word beweer ʼn Toyota Quantum-voertuig word deur die ontvoerders gebruik om die skoolkinders te teiken en te ontvoer. Nóg ʼn inskrywing beweer die kinders word vir moetie-doeleindes ontvoer. ’n Boodskap wat ook die ronde doen, beweer sewe kinders is in Soshanguve by ’n laerskool ontvoer.

Die SAPD se Tshwane-Noord-groepering het in ʼn verklaring bevestig dat daar geen waarheid in die gerugte steek nie. Volgens die verklaring is daar geen ontvoering van kinders aangemeld by enige van die polisiestasies in Akasia, Dube, Ga-Rankuwa, Hammanskraal, Loate, Mabopane, Pretoria-Noord, Rietgat, Soshanguve of Temba nie.

Kapt. Mavela Masondo, provinsiale woordvoerder vir die SAPD in Gauteng, het ook aan Maroela Media gesê hy dra geen kennis van enige sodanige ontvoering van skoolkinders in die provinsie nie.

Die polisie het in die verklaring die verspreiding van valse inligting op sosiale media veroordeel en gesê die gerugte het tot gevolg gehad dat talle ouers onlangs by ʼn skool in Soshanguve opgedaag het om hul kinders te kom haal en sodoende die skool se eksamenrooster ontwrig het. “Valse berigte plaas onnodige druk op belastingbetalers omdat staatshulpbronne en tyd gebruik word vir iets wat nie werklik bestaan nie,” lui die verklaring.

“Die SAPD waardeer die gebruik van sosiale media as ʼn manier om vinnig met die publiek te kommunikeer en inligting te deel. Ons veroordeel egter die verspreiding van onwaarhede, fopnuus en onbevestigde bewerings wat onnodig paniek in ons gemeenskappe saai. Ons doen ʼn beroep op sosialemediagebruikers om nie hierdie ongegronde en kwaadwillige bewerings te versprei nie.”

Lees hier meer vir wenke om tussen ware en fopnuus te onderskei.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

12 Kommentare

jongste oudste gewildste
Elsa

wat is die doel om te lieg? sjoe vrees word gesaai en die sondebokke loop los…msg dié mense gearresteer word …..nee genade doen iets beter en gaan soek werk

Lou

Daar was al voorheen sulke twak gesirkuleer. Dit skep ernstige probleme. Die beste ding wat mens kan doen is om die inligting na te gaan voordat jy dit verder in die kuberruim aanstuur.

Sarel

Sulke stories kan net onstaan en versprei word deur mense wat nie self kyk na die feite nie en blindelings dit forward vir al wat n selfoon het.

Pieterlewismuts

Wil huil van verontwaardigheid.
Ek haal aan “Valse berigte plaas on nodige druk op belastingbetalers omdat staatshulp bronne en tyd gebruik word vir iets wat nie bestaan nie”.
Twee redes vir my verontwaardiging.
1 As daar n.REGTIG WESENTLIKE HUIDIGE probleem bestaan dag die polisie of doodgewoon nie op nie of enigiets van drie uur tot drie dae later eers op.
2.Dit is algemene kennis dat staatshulpbronne en tyd wyd aangewend eord vir die verryking van ELITE staatsamptenare.

WW

Vriende, ek wil nou nie paniek saai nie maar as ouer neem ek enige “bevestiging” wat positiewe vordering probeer uitbeeld vanaf onse SAPD met ‘n knippie sout. Daar was VANDAG ‘n omsendbrief van ons hoërskool in Randburg wat waarsku dat daar pogings tot ontvoering was asook bevestigde gewapende roof van leerlinge in skooldrag. Die verskillende tye wat leerlinge eksamens skryf en in verskeie gevalle vir hulle werkende ouers moet wag om opgelaai te word, terwyl daar mos nou minder normale beweging by die skole is, is vir hierdie boewe ‘n geleentheid tot misdaad. Ek sal maar liewer versigtig wees en… Lees meer »