Polisie sê oor vals berig op sosiale media

sosiale-media-facebook-twitter-instragram

Foto: LoboStudioHamburg/Pixabay.com

Die polisie sê hulle het met kommer kennis geneem van verskeie berigte wat op sosiale media versprei word waarin vals inligting weergegee word.

Brig. Mashadi Selepe, woordvoerder van die polisie, het gesê in die jongste plasing op sosiale media word beweer ʼn vrou wat in hegtenis geneem is omdat sy in die openbaar gedrink het, is deur verskeie mans by ʼn Mamelodi-polisiestasie verkrag waarna sy dood is.

“Dit is heeltemal onwaar, die voorval het nooit plaasgevind nie. Hierdie valse en roekelose aantygings word verwerp.”

Selepe het gesê die polisie beskou die plasing as hoogs onverantwoordelik en onsensitief teenoor die polisie en die gemeenskappe wat die polisie dien.

“Ons ondersoek tans die plasing om by die bron uit te kom. Die voorval word in ʼn baie ernstige lig beskou en die polisie sal regstappe oorweeg.”

Lede van die gemeenskap is aangemoedig om sosialemediaplatforms verantwoordelik en sinvol te gebruik wanneer hulle plasings maak. “Dit is belangrik om te besef dat kommunikasie van dié aard onmiddellik na ander persone aangestuur sal word. Sosialemediagebruikers moet die waarheid van die inligting eers mooi oorweeg voordat hul dit met ander gebruikers deel,” het Selepe gesê.

Selepe het gewaarsku dat ʼn persoon volgens wet nie die bron van die inhoud hoef te wees om verantwoordbaar gehou te word nie. Die deel of herhaal van die plasing is genoeg om jou in die sop te laat beland.

“ʼn Persoon mag ook verantwoordbaar gehou word vir ʼn ander persoon se plasing as daardie persoon weet hulle is ‘ge-tag’ en toelaat dat hul naam daar verskyn sonder om stappe te doen om hulself te distansieer van die plasing.”

Intussen het Moses Dlamini, woordvoerder van die Onafhanklike Polisie ondersoekdirektoraat (Opod), gesê berigte dat dié direktoraat die polisie ondersoek in verband met die bendeverkragting en dood van ʼn vrou by Mamelodi-polisiestasie is onwaar.

Volgens Dlamini kon ondersoekbeamptes geen bewyse vind dat die voorval plaasgevind het nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Nico ·

Wat interessant is waarom word so ‘n valse berig geglo en aangestuur? Is dit omdat dit in die SA konteks nie heeltemal vergesog is nie? Wat van ander valse berigte wat in ander media (meer hoofstroom) vir ons opgedis word?

Duitser ·

Dan moet jy ook byse dit is die optrede wat jy van die sa polisie sal glo agv hulle reputasie

Saartjie ·

Jy kannie se dis n boer as jy geen bewyse het nie… Tel jou woorde en kry jou feite reg voor jy beskuldigings rond gooi

Casper Labuschagne ·

Net dit, as my telefoon lui en iemand probeer om ‘n onwettige skema soos ‘n piramiedeskema aan my te verkoop, is ek gevolglik ook skuldig aan die bedrog, al neem ek nie daaraan deel nie? Of is ek aandadig dat skelms dalk met of sonder my wete my naam mag gebruik as ‘n verwysing vir iets onwettig? Of as ek ‘n kafee besit wat koerante verkoop en daar is ‘n valse of misleidende berig in die koerant, is ek ook nou aandadig aan die gevolge van die valse koerantberig? Want dit is hoe die SAPS nou klaarblyklik vir sosiale media beskou.

Meeste plasings op sosiale media word goedertrou gedeel omdat mense glo dat sulke inligting vir hul vriendekring nuttig mag wees. Het enige van ons die vermoë of tyd om alles te verifieer voordat ons dit met ander deel?

Karolis ·

Selepe moet ook eers huiswerk doen voordat hy sulke valse regsuitsprake (waarskuwings) maak.

Lientjie ·

Dis hoekom ek niks deel op FB nie, want 80% van dit is vals nuus.

Shame ·

Dit sal weer NET DIE WITTES WEES, want as MALEMA En al sy ondersteuners wat DAAGLIKS valse aantygings maak teen politici en almal skelms en diewe en rassiste noem of facebook EN dit nog versprei ook nog niks oorgekom het nie beteken dit dat NET BLANKES vervolg sal word al LIKE hulle net iemand se skrywe .. NIEMAND sal anders vervolg word nie … WHITES ONLY!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.