Polisie se vermoë bevraagteken om politieke moorde op te los

Kommissarisse Vasu Gounden, voorsitter Marumo Moerane SC en professor Cheryl Potgieter (Foto: ANA)

Die KwaZulu-Natalse wetgewer het “die ondoeltreffendheid van staatsveiligheidmasjinerie veroordeel” en “kommer uitgespreek” oor die Suid-Afrikaanse Polisiediens se vermoë om die “meesterbreine” agter politieke moorde in die provinsie aan te keer.

Dié kommentaar is vervat in ʼn verslag, “Joint Committee Inputs on the Moerane Commission Report”, gedateer 15 Augustus.

Die verslag van die gesamentlike komitee kom ná ʼn geslote sessie wat op 7 Augustus gehou is deur lede van die premier se portefeuljekomitee en gemeenskapsveiligheidkomitee binne die wetgewer wat die Moerane-kommissie van Ondersoek se verslag bestudeer het.

Die verslag is saamgestel deur die voorsitters van die onderskeie komitees, Nonhlanhla Khoza en Bheki Ntuli. Die verslag versoek dat die “verdoemende bewerings” ondersoek moet word.

Die kommentaar bied vir die eerste keer insig oor wat in die Moerane-verslag vervat is, wat tot dusver nog nie bekend gemaak is nie.

Die Moerane-kommissie van Ondersoek is teen die einde van 2016 deur premier Willies Mchunu aangestel en moes die onderliggende oorsake van politieke geweld sedert 2011 in die provinsie ondersoek, wat tot dusver vermoedelik tot die dood van 100 persone gelei het.

Die kommissie het oor ʼn jaar lank getuienis van meer as 60 persone aangehoor.

“Die gesamentlike komitee het kommer aangeteken dat daar klaarblyklik geen plan is om die meesterbreine agter die politieke moorde aan te keer nie, en in sommige gevalle word die verdagtes in onverwante sake vermoor wat daartoe lei dat die sake teruggetrek word of dat bewyse verlore gaan, soos in die Magaqa-saak,” aldus die verslag.

Sindiso Magaqa, voormalige sekretaris-generaal van die ANC-jeugliga, is in Julie 2017 geskiet en het in September 2017 gesterf “weens komplikasies van verskeie skietwonde”.

Fluitjieblasers voer aan Magaqa is doodgeskiet nadat hy korrupsie aan die lig gebring het oor multimiljoen rand se opknappingswerk aan ʼn gemeenskapsaal by die Umzimkhulu- plaaslike munisipaliteit waar hy ʼn raadslid was.

Die gesamentlike komitee het ook verskeie staatsveiligheidsagentskappe veroordeel, die Moerane-kommissie se beweerde vooroordeel teen geïmpliseerde partye bevraagteken, geëis dat raadslede van die behuisingsproses verwyder moet word en groter deursigtigheid by munisipaliteite versoek. “Die taalgebruik in die verslag moes konsekwent gewees het. Wanneer dit IVP-moordenaars is, word daar na hulle verwys as ‘warlords’, maar vir ander politieke partye word daar na die moordenaars verwys as ‘aktiviste’.”

Die komitee het ook die eThekwini-munisipaliteit veroordeel vir sy versuim om voor die Moerane-kommissie te getuig oor die omstrede Glebelands-hostel in Umlazi en die geloofwaardigheid van die polisie se vermoë om misdade te ondersoek waar polisiebeamptes na bewering betrokke is, bevraagteken.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

humor ·

Hulle sukkel met navorsing en hou beraad oor waarhede wat vir ons almal algemenekennis is.

Sieg ·

Ja die regering het reeds jakkals skaap wagter gemaak wat verwag julle??

Blits ·

Ek wil nie snaaks wees nie, maar dit is nie net onvermoë om politieke moorde op te los nie maar meer om hulle werk te doen sonder inmenging en onafhandlik te bly, daar in die polisie heeltemal te veel politiek en versteekde agendas

Sieg ·

Fluitjie blasers julle gaan julle fluitjies stukkend baas en níks gaan help nie.

Johanna Botha ·

Onvermoëe dit terwyl mense in n polisiestasie instap en hulle beroof van hulle eie wapens ….dan verwag ons die polisie moet ons beskerm ….nee kyk die vlak van onvermoëe in die huidige polisie ken eintlik geen perke nie !

Johan H. ·

Julle politieke kabinetskelms verdien al die probleme wat julle kry,,, Die boere nie!!!!

Joshua ·

Is dit waar dat om-en-by net 14% van alle moorde elke jaar n skuldig bevinding in die hof suksesvol is?

Louis le Roux ·

Hoe kan die polisie behoorlike werk doen as ‘n klomp van hulle self kriminele is?

Colleen ·

Stel ‘n kommissie aan en nog ‘n kommissie om oor die kommisie te waak en rapporteer. Dit is mos die “in ding” om ‘n kommissie aan te stel vir alles.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.