Polisie skets prentjie oor Johann Botha se skietdood

Johann Botha. Foto: Reint Dykema

Die Gautengse polisie het ʼn soektog van stapel gestuur na vier verdagtes wat Woensdagaand die televisie-en-radio-aanbieder, Johann Botha (53), en die eienaar van ʼn Johannesburgse eet-en-kuierplek koelbloedig tydens ʼn rooftog doodgeskiet het.

Botha en sy goeie vriend, Werner “Swazi” Perchtold (76), die eienaar van Zebra Inn in Jeppestown, het omstreeks 19:00 in die restaurant gekuier. Die restaurant was een van Botha se gunsteling-kuierplekke.

“Vier verdagtes, drie mans en ʼn vrou, het omstreeks 19:20 by die restaurant ingestap en iets bestel om te drink,” het kapt. Richard Munyai, ’n woordvoerder van die Jeppestown-polisie, Donderdag aan Maroela Media gesê.

“ʼn Ruk later het van die verdagtes vuurwapens uitgepluk en dit op die eienaar en sy vriend gerig en op geld aangedring. Die rowers het die eienaar en sy vriend geskiet en vermoedelik met ʼn onbekende bedrag geld en twee vuurwapens van die toneel gevlug.”

Volgens Munyai is Botha en Perchtold albei twee keer in die bolywe geskiet en op die toneel dood. Perchtold is in sy ken en regterskouerblad geskiet. Botha is in die bors en regterskouerblad geskiet.

Die Jeppestown-polisie ondersoek twee sake van moord en ʼn saak van sakeroof. Niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie.

Intussen stroom huldeblyke en boodskappe van bemoediging uit alle oorde vir Botha, die gestorwe “gentle giant”, in.

Werner Perchtold. Foto: Facebook

Botha, ʼn bekende in bewaringskringe en die voormalige uitvoerende regisseur van die natuurprogram 50/50, was sedert begin vanjaar die aanbieder van Pretoria FM se gewilde Sondagaandprogram Nagmusiek.

Botha was die afgelope tyd betrokke by produksies vir M-Net se program Carte Blanche. Hy was ook betrokke by kykNET se Projek Aardwolf en was voorheen ʼn programaanbieder op RSG.

“Johann se dood is ʼn reuseverlies vir die land, media en die mense van Suid-Afrika,” het Willie Spies, besturende direkteur van Pretoria FM, gesê. “Sy dood onderstreep weereens die vlaag van gewelddadige misdaad en rampokkery wat Suid-Afrika tans gevange hou.”

George Mazarakis, hoof uitvoerende vervaardiger van Carte Blanche, het sy dood as ʼn “verwoestende verlies” beskryf.

Mazarakis het gesê sy dood is nie net ʼn groot verlies vir Carte Blanche nie, maar ook vir die telvisiebedryf as geheel.

“Hy was hoogs ervare en talentvol. Hy was die uitvoerende vervaardiger van 50/50 voor ons tyd en ook ʼn aanbieder. Dit is ʼn onbetwisbare verlies, jy vind nie mense wat so ervare en talentvol is nie,” het Mazarakis gesê.

Mazarakis het gesê Botha was bekend vir sy passie vir die natuurlewe, klassieke musiek en opera. “Hy was ʼn baie diep en intellektuele mens wat baie toegewyd was aan sy werk. Hy was warmhartig, vriendelik en ʼn reus, maar baie saggeaard.”

Die burgerregte-organisasie AfriForum het ook sy medelye aan Botha se familie, vriende en kollegas betuig.

“Johann was ’n legende, nie net as radio-en-televisieman nie, maar hy het ook diep spore in bewaringskringe getrap. Ons dink aan sy werk by 50/50, sy betrokkenheid by Carte Blanche, asook sy werk as aanbieder. Johann se dood laat ’n groot leemte en is tekenend van die misdaadkrisis in Suid-Afrika. Syne is nog ’n lewe wat geëis is deur die gewelddadige vlaag van misdaad wat die land teister,” het Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, gesê.

Botha was ongetroud en het nie kinders gehad nie. Sy broer, Rudolph Botha, het Woensdag sy liggaam gaan uitken.

Lees ook: Johann Botha: ‘Só sal ons hom onthou’

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

43 Kommentare

Sonet Klopper ·

Adri dit is darm erge aantuigings om te maak. Ek neem aan daar was cctv kameras wat dit opgeneem het.

Johan. H. ·

Nee sonet daar is niks fout met die aantuigings nie, Pol lede het al bewys hulle is tot enige iets instaat, so ook is alle mense,

Ai Ai ·

Daar was ook seker nie net hulle 2 in die kuierplek nie. Jy kan nie sulke wilde aantuigings maak nie Adri!

Anoniem ·

CCTV = beeldmateriaal = tyd, gebeure, details = polisie verklaring

Attie No1 ·

Kuier in Jeppestown? Genugtig ek werk in die stad en ek is uiters oplettend en gestres as ek hier inry en uitry, ek doen dit want dit is my werk en ek moet my salaris verdien. Maar wit mense hoort al jare nie meer in Johannesburg se middestad en sy onmiddelike buurtes nie, punt. Jy waag jou lewe elke dag en dit sluit my in.

Ai tog ·

Ai tog, maak regtig nie meer saak waar jy is of kuier nie, jy het geen kanse op oorlewing meer nie, kyk maar vir Demi ook. Wetsgehoorsame burgers het geen regte in Suid-Afrika nie!!!!

Nettie ·

Ek het dit al hoeveel keer gesê en gaan dit weer sê: doodstraf sal nooit, nooit, ooit weer teruggebring word in SA nie. Daar is te veel wetlike aspekte, rompslomp ens. wat deurgevoer sal moet word voor hierdie “reg op die lewe”-wetgewing verander sal word. Die geen-doodstraf Wet is in die Grondwet opgeneem; om die Grondwet te verander, moet daar ‘n 2/3 meerderheid stem in die land heers (wat ons weet nooit sal gebeur nie) en dan moet daar eers ‘n referendum uitgeroep word voor die proses om die reg-op-lewe-Grondwet-wetgewing te skrap. Dit alleen kan etlike wetsprosesse en jare neem.

Kom ons veronderstel die doodstraf word wel weer toegestaan: indien dit uitgespreek word, sit ‘n misdadiger etlike jare op “death row” waartydens die belastingbetalers hom in die lewe moet hou met kos/huisvesting/klere/mediese-sorg/studies/elektrisiteit/water/vermaak ens. En intussen kan hy appelleer en dalk suksesvol wees ook! En kan ons die regstelsel vandag vertrou (ek doen nog, vir die oomblik) – maar veronderstel nie-regspleging vind plaas en ‘n werklike onskuldige persoon word die doodstraf opgelê en dit uitgevoer (dit het al voorheen plaasgevind). Dán wat? Dan wil ons dit weer afgeskaf hê? Ek is ten gunste van die doodstraf, mits dit regverdig, op ‘n wat-vir-een-geld-geld-vir-die-ander en sommer vinnig na vonnisoplegging plaasvind, sonder appèl wat aangeteken kan word.

Julie Hook ·

Ons harte gaan uit na al Sy geliefdes en familie. Wat ń verkies vir al Sy aanhangers. God laat nie sulke wrede dade ongesiens verby gaan nie. Rus in vrede Ons sal jou mis. Mag God gee dat wie dit ookal gepleeg het aan die pen ry.

Ai ·

En as die restaurant nou deure toemaak as die familie dit te traumatiserend vind dan sit hoeveel sonder werk?

En so vernietig hulle nie net twee families se lewens deur twee mense dood te maak nie, hulle beroof hulle eie mense moontlik van werk.

Maar dis ons skuld dat dit swaar gaan, ne?

Sterkte aan die gesinne. Dit maak mens bitter ongelukkig om elke dag die dinge te lees.

John ·

Nou is albei SA se Johann Botha’s weg. Beide fundi’s mbt klassieke musiek waaraan daar juis deesdae plaaslik so ‘n groot tekort is. Hoe gewild was Johann se aanbiedings van Dis Opera nie op Sondagaande nie, maar hy is daar uitgeboender. Sy destydse programme oor renoserstropery het sekere mense ongemaklik gelaat en dit het hom ook ten nadele gestrek. Afrika verduur nie eerbaarheid en integriteit nie… diesulkes ly. Ons sal Johann mis.

marous ·

Hierdie land is op ‘n punt waar losprys op koppe die teenvoeter gaan word.

Bekommerd ·

Ek wil graag hê iemand moet bietjie statistieke gee van hoeveel Suid Afrikaners is betrokke by al die moorde en hoeveel buitelanders. Ons grense is oopgestel vir enige een om te kom en maak soos hulle wil, want daar word gesê ag siestog daar is nie werk in die ander lande nie, maar Suid Afrika is die land van melk en heuning…Ek wens ons president wil ook maak soos in Botswana, stuur al die buitelanders terug na hulle eie land en sorg vir jou eie land en sy mense.

Johannes van Staden ·

Geen maar GEEN wet en orde in SA ….SA is vir die honde gegooi ….die wigte en teenwigte werk net mooi niks !

Andile ·

Maar FW (Frederik Wigte) het plegtig belowe ons kan aales weggee vir sy wigte? Sekerlik sou so n egbreuk verraaier nie vir ons gelieg het nie?

Deon ·

Jeppestown, Pretoria, Coligny, Bloemfontein, Delmas, Lephalale, BelaBela, Polokwane en waar ook al mens gaan, hierdie SAfrika is baie gevaarlik!!

Hartseer ·

Ek het die voorreg gehad om Johann te ontmoet. Wat n besonderse mens met n groot liefde vir sy land en diere. My innige simpatie aan sy familie en vriende. Sa is n armer land sonder hom.

alida ·

Mense asb dit is nie aantuigings nie maar aantygings. Ek sien dit so dikwels.

stephe ·

As die doodstraf nie misdadigers sal afskrik nie volgens die menseregte ondersteuners nie , wat dan ? Tronkstraf !!!!!!

R Burger ·

Net gister sê ek vir my vriendin dat satan Suid-Afrika regeer, want daar het niemand meer respek vir mekaar nie… nie eens meer kinders vir hul ouers nie. Daar is werklik groot fout!

Theresa ·

Innige simpatie aan albei die persone wat doodgeskiet is se familie en vriende.
Dis ontsettend tragies.
Hoop regtig daar was kameras om die ID van die moordenaars makliker te maak, of ten minste omsittendes wat in kamera kan getuig en gesigsketse laat doen.

G ·

Ek het net begin wonder of niemand dan simpatie het met die tweede slagoffer se naastes nie. ‘n Hele berig oor een, en omtrent net ‘n naam en foto van die ander. Dis makliker om oor ‘n bekende persoon te skryf, maar geez. Sterkte aan beide slagoffers se families en vriende.

Pieter ·

‘n Mens se lewe is niks werd in hierdie land nie. Elke dag gebeur soortgelyke voorvalle waar mense vir ‘n paar rand of ‘n selfoon vermoor word. Wanneer gaan dit ooit stop ???

Johannes van Staden ·

Ons buurstaat Botwana het byna geen moorde …maar hulle het die doodstraf …dit se tog iets !

HK ·

Sterkte aan albei families. Dis tragies, SA brand, letterlik en figuurlik.

Martie Joubert ·

Haatlike walglike landsgebeure! Ons treur oor hierdie 2 mense….en oor die wrede dood wat om elke hoek en draai lê in wag in hierdie verderflike plek.

Retha Moorcroft ·

So bitter jammer oor die groot verlies. Hy was ʼn groot gees. Ek weet waardeur die familie en vriende gaan. My man is ook in Des, ʼn week voor Kersfees en ʼn week na ons seun se troue, vermoor in ons vakansiehuis langs Witbank dam. Hy is voor my oë doodgeskiet. Daarna is ek deur 2 van die 4 verdagtes aangehou met vuurwapens. Hul het balaclavas aangehad en al 4 was gewapen. En al wat gesteel is was my man se werk selfoon en ʼn goedkoop silver hangertjie wat van my nek afgeruk is. Daar is niks gepraat of vir enige iets gevra om te roof nie. En tot nou toe geen verdagtes. Daar was nie eers ʼn soektog geloods na die verdagtes nie. Behalwe vir die 1 keer wat die ondersoekbeampte my gebel het om my finale verklaring te gaan gee. Het ek nog geen terugvoer van polisie gekry nie en word ek nie op hoogte gehou van die ondersoek nie. Het 3 maande gewag vir die outopsie verslag. Dis nou amper 6 maande later en ek moet aangaan met my lewe. Weet nie wat van ons land se regstelsel gaan word nie en my man se moord gaan seker net nog ʼn statistiek word. Dit is so hartseer. Hoeveel moorde moet daar nog wees voordat daar drastiese stappe gedoen gaan word oor ons land se misdaad. Sterkte vir al die familie en vriende.

A.Claassen ·

Ek stel voor dat jy Min van Polisie inlig oor swak ondersoek na moord op jou man.Sy adres is op twitter.Dis sal goed wees as hy bewus is van onbevoegde ondersoek eenhede.Sterkte

G ·

Retha, ek weet nie hoe mens die drade weer optel na so iets nie, dit is vreeslik hartseer dat mens so lang paadjie saam met iemand stap, en dan word hul so wreed weggeneem. Baie sterkte vir julle.

Columbiana ·

Nee wat die minister van polisie voel ‘n veer tensy jy natuurlik Mej Suid Afrika is of een van sy ANC trawante dan voel hy vir jou en kry jy sommer persoonlik ‘n besoek. As jy net Jan Rap is steur hy hom glad nie aan jou verliese

Jollies ·

Pieter dit sal stop slegs as ons as gehoorsame kinders van God ons lewens in orde kry. Lees Deut 28 die antw is BAIE duidelik!

Columbiana ·

So wat julle sê is ons word gestraf? Dis vreemd ek het nogal gedink dat die misdadigers die skuldiges is nie die slagoffers en hulle families nie!

rafel ·

Jammer oor jou verlies Retha. Ek wonder elke dag wie is volgende…ek bid net elke dag dat my familie beskerm sal wees. En God hulle sal bewaar. Wat n nagmerrie om in hierdie land te leef. Die gruwelikhede is onaanvaarbaar.

Magda ·

BRING DIE DOODSTRAF TERUG WANT SO BAIE MENSE WORD ONNODIG GESKIET.

MagdaG ·

BRING DIE DOODSTRAF TERUG WANT SO BAIE MENSE WORD ONNODIG GESKIET.

Elsa ·

Al die misdaad begin met dwelm misbruik. As dit uit ons land is sal dit beter gaan.
Nie voor dit kan opgelos word nie sal dit net aangaan soos dit is op die oomblik.
My innige meegevoel vir die families van die slagoffers.

Ironies ·

Hi, nog iets vir Isidingo om in hulle storie lyn in te skryf, “iets waaroor ons moet praat en elke dag in die gesig staar” soos Isidingo se woordvoerder sê.

annie ·

Johann is my ma se neef en familie van my, terwyl julle almal bespiegel en wonder “wat maak hy in Jeppe’s” en en ….dink julle vir een oomblik aan sy ma en sy pa (wat nog steeds lewe) sy broer en sy suster wat diep hartseer is oor die verlies van ‘n geliefde. Dink julle vir een oomblik aan hulle harseer en hulle verlies. Dit verstom my van die mensdom dat dit so maklik is om klippe te gooi en nie vir een oomlik te dink aan die rippel wat hulle veroorsaak….en die mense wat hulle daardeur raak nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.