Polisie skiet glo ‘geestelik onstabiele’ man dood

Tshepiso Adoons (Foto: Facebook)

Die onafhanklike polisieondersoekdirektoraat (Opod) ondersoek die dood van ’n man wat Dinsdag na bewering deur polisiebeamptes by sy ouerhuis in Tembisa aan die Oos-Rand doodgeskiet is.

Ndileka Cola, woordvoerder van Opod, het gesê die man het glo met sy familie in hul huis in Phomolong baklei waarna die polisie na die huis ontbied is.

Die man het glo nie sy samewerking gegee nie en nog polisiebeamptes is ontbied. Hy het toe glo met ’n mes op die polisiebeamptes afgestorm waarna hy doodgeskiet is.

Die oorledene is intussen as die 22-jarige Tshepiso Adoons geïdentifiseer. Adoons se ma, Mavis Adoons, het aan News24 gesê haar seun was “geestelik onstabiel”. Sy het gesê die polisie moes net help om hom in bedwang te bring.

“In plaas daarvan om ons te help om hom na ʼn psigiatriese inrigting te neem, het hulle hom in ’n skuiling doodgeskiet waar hy van hulle weggekruip het,” het Adoons aan News24 gesê.

Die ondersoek na Adoons se dood duur voort.

Dié voorval volg enkele weke nadat die 16-jarige Nathaniel Julies van Eldoradopark na bewering deur polisiebeamptes doodgeskiet is.

Drie polisiebeamptes is in verband met Julies, wat downsindroom gehad het, se moord in hegtenis geneem.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Stofdonkie ·

Volgens die artikel klink die stories maar baie ver van mekaar. Volgens die polisie het hy met ‘n mes op hulle afgestorm en volgens die ma het hy in ‘n skuiling weggekruip.

Sandra ·

“Drie polisiebeamptes is in verband met Julies, wat downsindroom gehad het, se moord in hegtenis geneem.”

Ek is so jammer vir die familie se verlies, maar met die bostaande lyk dit of geregtigheid gaan geskied.

SwartBees ·

As iemand my bestorm met n mes sal ek ook los trek en skiet.

Tanniepetoors ·

Nee, die polisie is veronderstel om behoorlik opgelei te wees in selfverdediging. Dit beteken onder andere dat jy n persoon wat jou lewe met n mes of skerp wapen/voorwerp bedreig, moet kan ontwapen. Minimum geweld! Die “Shoot to kill” uitlating kos die belastingbetaler al miljarde rande en die polisie word NOU nog nie behoorlik opgelei OF toegerus vir hul taak nie.

Pieter ·

blm gaan nou enige oomblik groooot bohaai maak wêreldwyd, of is betrokke polisie-lede dalk nie wit nie?

Blondie76 ·

Ek verstaan nie mooi nie. Eers o tboed die familie die polisie. Daar word in ander media en nuus blaaie ook bevestig dat die man met ‘n mes op die polisie afgepyl het, nou is die storie dat hy weggekruip en toe geskiet is soos vertel deur die ma. Ek glo ek self sou die sneller trek as iemand met ‘n mes op my afpyl.

Agge nee ·

Klink vir my na mý storie, jóu storie en die wáarheid

christo ·

Die geestesversteurde persoon se gedrag het ‘n wetstoepassings beampte se lewe in gevaar gestel. Indien daar geen ander keuse was om lewens te beskerm.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.