Polisie skiet vier transitorowers dood

Foto: SAPD

Vier vermeende transitorowers is doodgeskiet en nog een is in hegtenis geneem na ʼn skietgeveg met die polisie in Katlehong aan die Oos-Rand.

ʼn Groep gewapende mans het Vrydagoggend op ʼn geldwa in Langlaagte toegeslaan. Die verdagtes het een van hul voertuie gebruik om die geldwa van die pad af te dwing waarna springstof gebruik is om die geldwa oop te skiet.

Die verdagtes het met ʼn onbekende bedrag kontant op die vlug geslaan en die voertuig wat gebruik is om die geldwa van die pad af te dwing is in ligte laaie op die toneel gevind, het kol. Brenda Muridili, polisiewoordvoerder, gesê.

ʼn Veiligheidswag het tydens die voorval ʼn kopwond opgedoen en is na ʼn hospitaal geneem vir behandeling.

Foto: SAPD

ʼn Span bestaande uit lede van misdaadintelligensie, die lugvleuel, spoorsnyspanne en die Ekurhuleni- en Johannesburgse metropolisie het inligting opgevolg wat hulle na ʼn huis in Katlehong gelei het. Die verdagtes het die beamptes gewaar en op hulle losgebrand. Die beamptes het teruggevuur en vier verdagtes doodgeskiet. Een verdagte is in hegtenis geneem en ʼn soektog is van stapel gestuur na die verdagtes wat daarin kon slaag om te vlug.

Daar is op twee polisieradio’s, ʼn ongelisensieerde vuurwapen en twee voertuie beslag gelê. Die een voertuig is verlede maand in Katlehong gesteel en die ander twee weke gelede in Sandton.

Die Valke het die ondersoek oorgeneem. Die verdagte wat in hegtenis geneem is, sal binnekort in die hof verskyn op aanklagte van moord, poging tot moord, gewapende roof, die besit van gesteelde voertuie en die besit van ʼn ongelisensieerde vuurwapen en ammunisie.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.