Polisie-skoonmaker tronk toe vir korrupsie

Argieffoto: Pixabay.com

ʼn 54-jarige man wat vroeër ʼn skoonmaker by die Bayview-polisiestasie was, is Donderdag in die Durban-landdroshof vyf jaar gevangenisstraf opgelê. Hy is skuldig bevind aan verskeie misdrywe, insluitend korrupsie en die onwettige besit van gesteelde goedere. Hy was kop in een mus met ʼn polisiebeampte.

Inderaj Bisoondaram is ʼn verdere 12 maande tronkstraf opgelê vir die onwettige besit van ammunisie. Hierdie vonnisse sal gelyktydig uitgedien word.

Volgens kapt. Simphiwe Mhlongo, woordvoerder van die Valke, het Bisoondaram tussen April en Oktober 2017 saam met ’n medepligtige, glo ʼn polisieman, onwettig polisietoerusting verkoop. Hierdie toerusting het koeëlvaste baadjies, pepersproei, ammunisie en polisie-uniforms ingesluit.

Bisoondaram is in November skuldig bevind op aanklag van sameswering om korrupsie te pleeg, korrupsie, die onwettige besit van gesteelde goedere, die onwettige dra of gebruik van ʼn polisie-uniform, die onwettige besit van ammunisie en diefstal.

Ao. Samuel Govindasamy (49), wat van dieselfde misdade aangekla word, sal na verwagting op 16 Maart in dieselfde landdroshof verskyn.

Intussen is ʼn munisipale amptenaar van die Ndwedwe-plaaslike munisipaliteit in KwaZulu-Natal Maandag in hegtenis geneem vir bedrog.

Nkosingizwile Gama (36) het na bewering tussen 2015 en 2016 as betaaladministrateur van die munisipaliteit versinde werknemers met fiktiewe name geskep en “salarisse” aan hulle uitbetaal.

“Gama se bedrieglike gedrag het gevolglik die munisipaliteit meer as R488 000 uit die sak gejaag,” sê Mhlongo.

“Tydens die sertifisering van salarisbetalings het Gama se toesighouer verdagte betalings opgemerk. Hy het ʼn saak van bedrog by die Ndwedwe-polisiestasie aanhangig gemaak. Die saak is aan die Valke toegeken vir ʼn deeglike ondersoek.”

Borgtog van R5 000 is Dinsdag in die Durbanse landdroshof aan Gama toegestaan. Hy sal na verwagting weer op 31 Maart in die hof verskyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Magda ·

Al die gelde wat gemaak is met verkoop van die items – moet ook terug betaal word, verkoop hulle bates asook die een van bedrog van R488 00.00 en dit moet terug gesit word in die Munisipaliteits
rek. Tronkstraf alleen help nie.

Alet ·

Nou hoef ons nie meer te wonder waar kom die bloulig bendes vandaan nie

Eclectus ·

Die owerhede wat hierdie vervolgings doen is soos water, hulle volg die weg van minste weerstand. Hulle vang klein onbekende vissies terwyl die groot bekende visse vermy word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.