Polisie slaan toe ná vlaag rooftogte by stortingsterrein

Argieffoto

Polisiebeamptes in Bloemfontein in die Vrystaat het Woensdag op ʼn stortingsterrein buite die stad toegeslaan nadat minstens agt mense in die afgelope twee maande daar beroof is.

Ao. Loraine Earle, woordvoerder van die polisie, het gesê sedert begin Mei is minstens agt mense beroof toe hulle rommel by die Suidpark-stortingsterrein gaan aflaai het en daar is ook in hierdie tyd waardevolle items uit vier motors by die stortingsterrein gesteel. Van die slagoffers is ook gedurende die rooftogte beseer.

ʼn Groot getal polisiebeamptes, werknemers van die departement van binnelandse sake en ander belanghebbendes is Woensdag na die stortingsterrein ontplooi. “Ongeveer 350 mense by die stortingsterrein is deursoek en die polisie het nagegaan of hulle nie gesoek word in verband met enige strafregtelike sake nie,” het Earle gesê. “Een persoon is gevind met twee ID-boekies wat nie sy eiendom is nie en daar is ook op dagga beslag gelê. Nog ʼn persoon is in hegtenis geneem vir die besit van gesteelde goedere.”

Genl.maj. Moeketsi Sempe, provinsiale polisiekommissaris in die Vrystaat, het gesê die polisie sal voortgaan om soortgelyke operasies op plekke te doen waar misdaad gereeld voorkom. “Die polisie sal in volle mag toeslaan wanneer ons sien die lewe van ons gemeenskapslede is in gevaar. Dit is wat ons doen. Ons gaan in, wanneer almal wil uit,” het Sempe gesê. “Misdadigers moet weet nes dit hulle besigheid is om misdaad te pleeg, is dit ons besigheid om misdaad hok te slaan. Hulle moet weet ons kom vir hulle.”

Sempe het ook ʼn beroep op die publiek gedoen om waaksaam te wees wanneer hulle die stortingsterrein of ander plekke waar misdaad volop is, besoek. “Mense moet bewus wees van wat om hulle aangaan en dubbel seker maak hul voertuie is gesluit. Baie misdadigers is opportuniste en sal van die geleentheid gebruik maak wanneer iemand nie paraat is nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Swartkat ·

Groot probleem by alle stortings terreine, baie misdaad en geen beheer. Munisipaliteite verwag dat mense hulle afval en tuinvullis op die stortings terrein stort maar kan nie die veiligheid van die publiek verseker nie. Elemente spring en hang sommer aan jou voertuig as jy die terrein ingaan en jy kan niks doen nie.

elize ·

Ons was 17 Junie aangeval. My man het blare en takke weggegooi. 2 het by deure kom lol waarop ek hulle gekeer het. Toe my man klaar was het hulle weer my kardeur oopgemaak en ek het dit toegemaak. En gesluit. 4 hrt my man omsingel en toe sy trouring afgeneem. Ek het geskreeu en baklei om te keer dat hulle nie goed in kar vat. Toe bring een ‘n mes en my man kon in die kar spring sodat ons kon ry. Niemand hrt ons gehelp nie en hulle was toe 6 om hom. Hy is 58 en was seker “sagte target”. Dis baie ontstellend gewees vir ons.

Pietman ·

Ergste van als… Die storting terrein het sekuriteit wagte maar hulle sit net by die hekke en is nie binnekant waar mense moet gaan stort nie (dis ‘n ent se ry)

Scalla ·

Die klomp is self aangestelde rommel status operateurs, proudly SA citizens

Michael ·

Skelms doen aan jou wat jy hulle toelaat ek gaan nie baie na stortingsterreine toe nie maar as ek gaan dan vat ek altyd my vriend cz saam en het nog nooit moeilikheid gehad nie.

cor ·

Hier by ons is daar n ou van die muslikepaliteit wat jou wys waar jy moet aflaai, gewoonlik tussen klomp bokse en gemors, dan wil sy trawante kwansuis help aflaaien as jy se nee dankie word die bokse aan die brand gesteek. So ek bly maar weg want die versekering sal defenitief nie uitbetaal nie. Sien ook nou in die plaaslike koerant dieselfde ou soek n geskenk of jy het probleme met hom en sy vriende en nie sekuriteit of SAP kom daar binne op die terrein nie.

marous ·

Die polisie moet met volle mag toeslaan om misdaad oral te voorkom . Nie na die tyd vure te probeer blus nie!

willem ·

selle met my gebeur in apr toe my selfoon gesteel was uit my voertuig.toe ek vra of daar sekeruteitkameras is,is daar gese dit werk nie

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.