Polisie slaan toe op ANC-hoë se huis

Die KwaZulu-Natalse onderleier van die ANC, Mike Mabuyakhulu. Foto: ANA

Die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) se batebeslagleggingseenheid het Donderdagoggend ʼn klopjag uitgevoer op die huis van die KwaZulu-Natalse onderleier van die ANC, Mike Mabuyakhulu, in Empangeni in Zoeloeland.

Die eenheid het beslag gelê op eiendom van Mabuyakhulu in ʼn klopjag wat verband hou met beweerde bedrog van R28 miljoen voortvloeiend uit ʼn jazzfees wat in 2012 in Durban gehou sou word, maar nooit plaasgevind het nie. Die geld, komend van die belastingbetaler, is uitbetaal, maar geen fees het ooit plaasgevind nie.

Mabuyakhulu is ʼn politieke swaargewig in KwaZulu-Natal en ʼn bondgenoot van pres. Cyril Ramaphosa. Hy het oor die jare ʼn verskeidenheid LUR-poste beklee, onder meer van landbou, behuising en ekonomiese ontwikkeling – laasgenoemde tot in 2016 toe hy uit die provinsiale kabinet uitgelaat is. Met sy omstredenheid, charisma en persoonlike gevolg is hy inderdaad, in Afrika-terme, een van die Groot Manne van die KwaZulu-Natalse politiek.

Sy inhegtenisneming (hy is tans uit op R50 000 borgtog) en nou die klopjag en beslaglegging op sy eiendom (daar is op twee luukse motors beslag gelê) plaas die KwaZulu-Natalse ANC én die NVG voor ʼn groot toets.

Wat die provinsiale ANC betref het hy oor jare ʼn boefagtige beeld opgebou waarvolgens sy leiers bo die wet verhewe is wat hul opponente aan die kortste ent laat trek – en selfs met hul lewens laat boet. Die afgelope paar jaar het dit tot ʼn teenreaksie by KwaZulu-Natalse kiesers gelei namate die DA en IVP gegroei het en sekeres in die ANC ʼn skoner beeld nagestreef het.

Hierdie stryd binne die provinsiale ANC was duidelik in die tweeledige reaksie van die party se KwaZulu-Natalse woordvoerder, Nomagugu Simelane-Zulu, op die gebeure by Mabuyakhulu se huis. Sy het aan die een kant gesê die reg moet sy gang gaan, maar aan die ander kant die kwalik bedekte dreigement geuiter dat niemand in die proses persoonlik in die verleentheid gestel moet word nie.

Ook die NVG onder die nuwe leiding van adv. Shamila Batohi staan met hierdie saak voor ʼn toets. Die afgelope paar maande moes die NVG die skade van adv. Shaun Abrahams en sy onmiddellike voorgangers met hul politieke gedienstigheid probeer oorkom.

Of hulle hierdie saak, teen ʼn magtige politikus soos Mabuyakhulu, kan voortsit en volvoer, sal vir die NVG ʼn belangrike toetssteen wees, want dat hulle aan baie politieke druk onderworpe wees, is ʼn gegewe.

Die leier van die DA in KwaZulu-Natal, Zwakele Mncwango, het in reaksie gesê dat dit bewys wat die aard en statuur van Ramaphosa se ondersteuners in KwaZulu-Natal is en dat Mabuyakhulu aan die pen moet ry.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Marius ·

‘n Kluis vol geld wag oorsee vir hom as hy uit die tronk kom as hy gaan.Hoeveel van daai geld word weer terug gevind amper niks.

Anoniem ·

Die spits van die Ysberg ! Delf nog dieper ? Niemand is verhewe bo die REG nie !

Brutus ·

Dink daar is veel meer van die kaders wat hulle self so gehelp het fondse, hulle moet almal ontbloot word.

Thinus Erasmus ·

En dit het langer as 6 jaar geduur om hom vir die enkele geval vas te trek! Hoeveel korrupsie en verliese sedertdien is toegelaat en wat kry hul terug?
Maar ons is trots Suid Afrikaners en ons is in ‘n veilige en wetsgehoorsame land waar die regering die steun van die meerderheid kiesers het!

Grys ·

Die ou bly in my straat, sal nou nie sy address gee nie, maar kon dit nie glo toe ek polisie sien nie. Arme kinders wat daar bly.

Elna ·

Toe maar jy sal hom gou weer daar sien want sy saak sal onder die mat ingevee word die dokkets sal weg raak. Hy sal weer sy weg uit koop hyt baie versteekte geld wat rond le.

jaco ·

Die polisie behoort aan die Staat en die Staat word tans deur die ANC beheer. Die minister van veiligheid en sekuriteit is ook lid van die ANC. So eintlik het die ANC toegeslaan op ‘n ANC-hoë se huis.
Iets maak nie sin nie.

De Villiers ·

Hoe kan die ANC belastingbetalersgeld vir musiekkonserte (in hierdie geval R28-miljoen) betaal terwyl dit eintlik bedoel is vir dienslewering? In daardie geval kan ons lekker feeste begin reël, en die munisipaliteit betaal. Lekker man.

Joe Olivier ·

Duidelik verstaan hy die begrip “ekonomiese ontwikkeling” baie anders as ons wat nie skelm is nie.

Stripes ·

Nou amper 7 jaar later eers word daar iets aan die saak gedoen? Het dit so lank geneem om van bewyse ontslae te raak? ANC politikus, staatsgeld…. nee wat daar sal niks van kom nie want anders praat hy dalk oor dinge wat andere gedoen het. Dit sal net toegesmeer word soos die omkoop geld en huise van 1994.

Michelle ·

Almal moet meet betaal op alles maar intussen word die staat koffers rot en kaal gestuur more is ons nie Suid-Afrika nie maar dan soek ons ook plek in ander lande want dan is hier niks.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.