Polisie slaan toe op ‘brandstofdiewe’

Talle houers met diesel in is op beslag gelê. (Foto: Verskaf)

Die polisie in KwaZulu-Natal het Dinsdag in twee afsonderlike voorvalle mense in hegtenis geneem wat na bewering gesteelde brandstof verkoop het.

Lt.kol. Nqobile Gwala, polisiewoordvoerder, sê polisiebeamptes van die Durbanse eenheid vir openbare orde het inligting ontvang oor ʼn man wat diesel, wat glo op onwettige wyse bekom is, in die Umbumbulu-omgewing verkoop.

Beamptes het Dinsdag op die man se woning toegeslaan en op 18 houers met elk tussen 20 en 25 liter diesel in, beslag gelê.

Die 43-jarige verdagte is in hegtenis geneem vir die besit van gesteelde eiendom.

“Aanvanklike ondersoeke het aan die lig gebring dat die diesel uit vragmotors gesteel is en dat die verdagte dit vanuit sy huis verkoop het,” sê Gwala.

Die man het Woensdag in die Umbumbulu-landdroshof verskyn.

In ʼn afsonderlike voorval in Ladysmith het beamptes twee verdagtes op die N3-snelweg in hegtenis geneem nadat hulle met duisende liter diesel betrap is.

“Beamptes het die snelweg gepatrolleer toe hulle ʼn sleepwa op die pad gewaar het. Die voertuig is aangekeer en daar is vasgetel dat minstens 6 000 liter diesel vervoer word,” sê Gwala.

“Die verdagtes kon egter nie ʼn bewys lewer dat al die brandstof deur hulle aangekoop is nie.”

Die verdagtes, onderskeidelik 31 en 33 jaar oud, is in hegtenis geneem vir die besit van gesteelde eiendom. Een van die verdagtes is ook ingevolge die Immigrasiewet aangekla.

Die vermeende brandstofdiewe het Dinsdag reeds in die Ladysmith-landdroshof verskyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

6 Kommentare

jongste oudste gewildste
Chris dupreez

Ek wonder vir hoeveel gaan sekere polisie beamtes nou weer die diesel verkoop

Blomme

So die oortreders is buitelanders? Suid Afrika ń misdaad paradys!

Diline

Daar is deesdae in meeste nuus berigte onwettige immigrante betrokke. Solank die onbevoegde regering nie plan maak met onwettige immigrante in die land nie, gaan kriminele dade net meer toeneem. DIT is duidelik is die kriminele statistieke van ons land

Wondermaarnet

In Ruyterwacht Kaapstad word net so met petrol en diesel gesmous. Gaan soek die skelms en maak name bekend .

Marius

Dis nogal ‘n goeie klein besigheid idee. Geen inset kostes nie en maak groot wins.