Polisie slaan toe op dwelmfabriek; 3 vas

Die polisie het beslag gelê op ’n groot hoeveelheid dwelms nadat hulle toegeslaan het op ’n laboratorium in Phoenix. Foto: SAPD

Wetstoepassers van KwaZulu-Natal het drie mans noord van Durban vir die besit van dwelms in hegtenis geneem en op ʼn groot hoeveelheid dwelms beslag gelê.

Kol. Thembeka Mbele, woordvoerder van die polisie, het gesê beamptes van misdaadintelligensie, die eenheid vir openbare orde en Durban se metropolisie het Woensdag om 09:30 twee mans van onderskeidelik 25 en 36 jaar oud in Phoenix aangekeer nadat hulle glo dwelms met ʼn straatwaarde van R44 500 in hul besit gevind het.

Die vonds sluit 2 050 heroïenkapsules en 60 mandraxtablette in. Die polisie sê beamptes het ook op R11 827 se kontant beslag gelê.

Albei verdagtes word van die besit van dwelms aangekla.

Mbele sê later dieselfde dag het polisiebeamptes van die polisiestasie in Phoenix ʼn misdaadoperasie uitgevoer nadat hulle inligting ontvang het van ʼn laboratorium waar dwelmmiddels vervaardig word.

Nadat die polisie die perseel in Westhamplek, Phoenix, dopgehou het, het hulle dit binnegegaan en beslag gelê op dwelms wat daar vervaardig en verpak is, onder meer heroïen.

In dié geval is 2 900 heroïenkapsules, 720 mandraxtablette, 500 g heroïenpoeier en 70 000 leë kapsules sowel as toerusting gevind. Die straatwaarde van die dwelms en toerusting is sowat R600 000.

Die 30-jarige verdagte wat hier in hegtenis geneem is, het vandag saam met die 25- en 36-jarige in die Verulam-landdroshof verskyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Susara ·

Dankie! aan die polisie. Ek glo reg en geregtigheid sal geskied,

Ben ·

Uitstekende Werk. Dankie aan al die SAP lede en mense wat hier bygedra het,

Annelize Niemand ·

So bly mag hulle tronkstraf kry, vir al die hartseer en pyn wat hulle ons as ouers laat deurmaak met ‘n kind wat ‘n verslaafde is. As hulle nie daar is dan kan ons kinders dit nie gebruik en het hulle dalk ook ‘n kans in hierdie samelewering van ons. Puik werk SAP

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.