Polisie slaan toe op fabriek wat vervalde eetgoed herverpak

Sommige van die eetgoed moes oënskynlik vernietig word, maar is herverpak. (Foto: Ekurhuleni-metroraad)

Minstens 13 mense is agter tralies nadat die Ekurhuleni-metropolisie en lede van die polisie op ʼn verwerkingsaanleg in Springs toegelaan het waar eetgoed wat verval of nagemaak is, verwerk en vir verkoop herverpak word.

“Minstens 13 mense is aangekla vir die handel in onwettige goedere en die besit van vermoedelik gesteelde eiendom,” het Phaladi Mmoko, burgemeesterskomiteelid vir gemeenskapsveiligheid in Ekurhuleni, gesê.

Vrydag se klopjag op die perseel volg op ʼn wenk van die publiek.

“Hulle hergebruik eetgoed soos lekkers, sjokolade, koeldrank en snoephappies wat reeds verval het, herverpak dit en verkoop dit dan weer aan die gemeenskap. Al hierdie onwettighede vind boonop onder baie onhigiëniese toestande plaas,” het Mmoko gesê.

Die voorlopige ondersoek het gewys dat die vervalde produkte eintlik vernietig moes word. Die polisie ondersoek ook die moontlikheid dat sommige van die produkte tydens vragmotorkapings gebuit is.

Die ondersoek het ook gewys dat die perseel nie voldoen aan bepalings oor voedselhigiëne nie.

Die polisie en omgewingsgesondheidsinspekteurs gaan ook die informele handel in die stad dophou omdat die produkte moontlik steeds daar verkoop word.

Mmoko het die metropolisie en polisie se vinnige optrede geloof. “Dit skep vertroue onder die gemeenskap. Ek kan die gemeenskap verseker, Covid-19 of nie, gaan ons nie skroom om misdaad te beveg nie.”

Die moontlikheid dat nog mense in hegtenis geneem kan word, is nie uitgesluit nie en inwoners is gevra om enige verdagte bedrywighede by wetstoepassingsowerhede aan te meld.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Johan ·

En wat van die wat langs die paaie sit en pap en vleis verkoop en nogal aan wetstoepassers ook. Dubbel standaarde alweer.

Jack ·

Jou vergelyking is ontoepaslik. Die kopers waarna jy verwys weet presies waarvoor hulle hulle inlaat. Herverpakte goedere met nuwe verval datums is bedrog en die kopers daarvan koop dit in goeder trou.

Johan ·

Die herverpakte goedere het n aansienlike prys verskil. So dit is dan binne die wet om vleis langs die pad voorteberei en te verkoop. Dit gaan nie oor keuses nie maar wel oor die toepassing van die wet so sekere onwetigge bedrywe word nou ook deur ons goed gepraat want ander is erger.

JohanR ·

Ek dog ek het ‘n vlieg in Vrydag se pakkie skyfies geproe! Die higiëne by hierdie verpakkings aanlegte kan nie wat wonders wees nie? Wat ons nou wil se is dat eet goedere waar op die datum verval het, gaan na ‘n gebou waar dit oop gemaak is, weer verpak word en wops waps dit het ‘n nuwe verkoop datum. Ek het altyd gedink as gekookte kos by ‘n plek “suspect” is dat ek darem ‘n pakkie skyfies/peanuts/chocolate kan koop wat verseel is, maar nou…..

Cherokee ·

In Carletonville was dit in ‘n apteek gedoen met medisyne. Meer as twee dekades gelede maar word steeds onthou.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.