Polisie slaan toe op huis waar rowers wegkruip

Die klopjag. (Foto: Verskaf)

Elf vermeende transitorowers is in Hendrina in Mpumalanga in hegtenis geneem vermoedelik voordat hulle ’n transitoroof kon deurvoer.

Kol. Katlego Mogale, woordvoerder van die Valke, sê ’n multidissiplinêre span bestaande uit onder meer die Valke en die polisie se eenheid vir georganiseerde misdaad het inligting ontvang oor verdagtes wat ’n transitorooftog beplan.

Die span is Vrydag saam met sekerheidswagte na ’n geïdentifiseerde huis in Hendrina waar die groep verdagtes almal weggekruip het. ’n Skietgeveg het met die owerhede se aankoms by die huis uitgebreek en twee verdagtes het te voet op die vlug geslaan.

Drie verdagtes is egter in ’n woonwa op die perseel in hegtenis geneem terwyl twee in die huis aangekeer is. Nog twee is in hegtenis geneem waar hulle in die plafon van die huis weggekruip het.

Vier ander het in ’n Mercedes‑Benz van die toneel gevlug.

Die owerhede het dié groep verdagtes agternagesit en ’n hoëspoed-jaagtog het gevolg waartydens die Mercedes‑Benz ’n minibustaxi getref het.

Vier verdagtes word aangekeer nadat hulle in ‘n Mercedes Benz op die vlug geslaan het. (Foto: Verskaf)

Niemand in die minibustaxi is beseer nie en die vier verdagtes is ná die jaagtog in hegtenis geneem.

Drie vuurwapens en drie voertuie waaronder ’n Mercedes‑Benz C-klas, wat verlede maand in Akasia gekaap is, ’n Golf 6 GTI, wat verlede maand in Soshanguve gekaap is, en ’n Ford Ranger, wat verlede maand in Krugersdorp gesteel is, is op die toneel gevind. Die polisie het ook beslag gelê op plofstof en ʼn groot hoeveelheid ammunisie.

’n Voorlopige ondersoek het intussen onthul dat een van die verdagtes binnekort in die landdroshof in Westernburg moet verskyn op ’n onverwante transitorooftog-aanklag.

Die groep verdagtes sal nou almal saam op aanklagte van poging tot moord, sameswering om ’n misdaad te pleeg, die onwettige besit van plofstof asook die onwettige besit van vuurwapens en ammunisie in die hof verskyn.

Die twee verdagtes wat daarin kon slaag om te voet te vlug, het glo intussen verskeie voertuie gekaap en word nog gesoek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Sarel ·

Mooi….geen Borg asb.
Die twee wst nog soek is seker die Chief en sy Boettie

Nie Verbaas ·

En weereens n bewys. Hulle kry borgtog en gaan aan waar hulle opgehou het. Hulle maak nog net verder n grap van die regstelsel.

Frank John ·

Impressive, ek’s verbaas, welgedaan. As die wets toepasers so kan aanhou kan die vlaag misdade wat dié land teister vasgevat word. Dis hoog tyd.

Blikkies ·

Welgedaan vir die SAPS . Nou moet Justisie net wakker word en rowers glad nie ‘Bail’geen nie want dit is mos nou al hoeveel keer bewys hulle gaan dadelik terug en pleeg dieselfde misdrywe.

Elizabeth ·

2024 kom nader. Verbeel ek my of raak transito rooftogte al hoe meer?

Janine ·

Goeie werk was net vreeslik om dit so naby aan mens te beleef vroeg oggend skote wat val en jy weet nie waarheen nie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.