Polisie slaan toe op kapingsindikaat

Van die verdagtes het in ’n gemerkte ambulans gery. (Foto: Verskaf / SAPS)

Altesaam 10 verdagtes is Maandag en Dinsdag deur polisie en private sekerheidsmaatskappye in Gauteng vasgetrek in verband met die kaping van vragmotors. Die verdagtes is moontlik deel van ʼn kapingsindikaat.

Kapt. Mavela Masondo, polisiewoordvoerder, sê die polisie het inligting ontvang dat ʼn vragmotorkaping iewers op die R59-snelweg vir Dinsdag beplan word. Dít volg nadat twee verdagtes reeds Maandag op ’n soortgelyke aanklag in Sedibeng in hegtenis geneem is.

Die inligting is aan die Valke, die polisie se honde-eenhede in Johannesburg en die Wes-Rand, Misdaadintelligensie en verskeie ander instansies deurgegee, waarna ’n aksieplan in werking gestel is.

“Die span het die roete langs die R59 dopgehou en omstreeks 11:00 drie motors, waaronder ’n gemerkte ambulans, opgemerk wat ’n vragmotor agtervolg.

“Die polisie het die motors voorgekeer, wat tot ’n skietery en ʼn hoëspoed-jaagtog gelei het.”

Volgens Masondo het die ambulans tot stilstand gekom, waarna drie verdagtes in hegtenis geneem is. Die verdagtes het twee vuurwapens en ’n steuringstoestel (jammer) in hulle besit gehad.

’n Vierde verdagte is in ’n Mazda voorgekeer en in hegtenis geneem.

“Die ander vier verdagtes, wat in ʼn Mercedes-Benz weggejaag het, is later op die M2-Suid vasgetrek. Die polisie het ook op twee vuurwapens beslag gelê.”

Masondo sê dit is later bevestig dat die Mercedes-Benz verlede maand in Moffatview in Johannesburg gesteel is.

Maroela Media het onlangs berig dat die misdaadstatistieke vir die vierde kwartaal van die 2020-’21-boekjaar wys daar was ’n skerp toename in vragmotorkapings in Suid-Afrika.

Bheki Cele, minister van polisie, het vroeër vanjaar gesê vragmotors en afleweringswaens word geteiken vir hul vrag wat gewoonlik kos, toestelle en ander goedere insluit.

“Dit is deurbraak vir ons in Gauteng aangesien ons al ’n geruime tyd na verdagtes soek wat agter die kapings van vragmotors in dié provinsie sit.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

8 Kommentare

jongste oudste gewildste
Elize

Brand hulle dit nie ook nie?

Diline

Die kriminele ruk nou hand uit in hierdie land. Dit danksy die patetiese vonnisse wat toegeken word vir misdade in die land gaan dit net erger word. Land van melk en heuning, enige krimineel se droom plek.

Kokerboom

Welgedaan SAPD

Frank

In plaas daarvan dat die regering aan die onteieningswet werk, moet hulle eerder werk aan algemene wetgewing, iets soos ekonomiese terrorisme.
As jy kliniek, trein, munisipaliteit, skool of iets afbrand, benadeel jy ander mense asook indirek/direk die ekonomie. Selfde met vragmotorkapers, transito rowers, gebrekkige munisipale dienslewering ens ens.
Die regering moet met rasse skrede ons kwynende ekonomie aanpak, nie wetgewing om die swart bevolking te paai nie.

Dries

Hoed reken dit is n deurbraak. Dit is nie hy nie. Dit is van die min wat net hul werk doen