Polisie slaan toe op kapingsindikaat

Dié voertuig is onlangs deur ’n sindikaat in Mpumalanga gekaap. (Foto: SAPD)

ʼn 34-jarige man wat met ʼn kapingsindikaat tussen Gauteng en Mpumalanga verbind word, is Maandag in Duduza, ʼn nedersetting naby Nigel in die Oos-Rand, in hegtenis geneem.

Die man, wie se naam nie bekendgemaak is nie, is boonop met ʼn gesteelde voertuig in sy besit betrap. Dié voertuig is onlangs in Mpumalanga gekaap.

Sers. Harry Manaka, polisiewoordvoerder, sê lede van dié sindikaat kaap voertuie in die gebiede van Kinross, Kriel en Secunda, en los dan gewoonlik hul slagoffers iewers in Duduza agter.

Hy beskou die inhegtenisneming as ʼn “groot deurbraak” in die polisie se pogings om dié sindikaat vas te trek.

Manaka verduidelik dat die verdagte in die vroeë oggendure in hegtenis geneem is nadat die polisie weke lank ʼn eiendom in Thipestraat dopgehou het. Hy het ook twee vuurwapenmagasyne en ammunisie in sy besit gehad.

Hy sal eersdaags in die Nigel-landdroshof op aanklag van die besit van ʼn gekaapte voertuig en ammunisie verskyn. Dit is nie duidelik of hy steeds in aanhouding is of intussen op borgtog vrygelaat is nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.