Polisie slaan toe op ontvoeringsindikaat

Argieffoto (Foto: SAPD/Facebook)

ʼn Ontvoeringsindikaat wat mense teiken op grond van hulle seksuele oriëntasie, is vandeesweek in die kiem gesmoor nadat die Gautengse polisie op vier verdagtes toegeslaan het.

Brig. Athlenda Mathe, polisiewoordvoerder, sê die betrokke mans teiken glo al geruime tyd lede van die LGBTQI-gemeenskap.

“Die verdagtes maak na bewering gebruik van ʼn pasmaatapp om slagoffers te identifiseer, na afgesonderde gebiede te lok, hulle te ontvoer en dan te beroof,” sê sy.

ʼn 26-jarige man het ʼn tyd lank met een van die verdagtes gesels toe hy die afgelope Sondag na ʼn afgeleë gebied in Johannesbrug gelok is.

“Hy is by sy aankoms by die ontmoetingspunt gekaap, ontvoer en beroof. Die verdagtes het ook sy persoonlike bankkaarte gebuit en dit glo gebruik om verskeie aankope mee te maak.”

Die voorval is by die Mondeor-polisiestasie aangemeld en die taakspan teen ontvoering het inligting gekry dat die verdagtes nog dieselfde dag by ʼn restaurant in Parktown sou ontmoet.

Die mans is by die betrokke restaurant aangetref met die slagoffer se bankkaarte, beursie, sak en selfoon.

Thabo Ndlovu (33), Ndumiso Mahlangu (27), Sibusiso Tshabalala (27) en Elson Nyati (25) is by die restaurant in hegtenis geneem. Die slagoffer, wat toe nog in hulle kloue was, is gered en is intussen met sy familie herenig.

Volgens Mathe het die verdagtes reeds in die Booysens-landdroshof verskyn. Al vier mans staan tereg op aanklag van kaping, ontvoering en afpersing.

Die slagoffer se motor, ʼn Mercedes C180, is nog nie teruggevind nie, maar die soektog na die voertuig duur voort.

Mathe het die betrokke wetstoepassingsowerhede, onder wie lede van die Johannesburg Metropolisie (JMPD) se honde-eenheid, Gautengse verkeersbeamptes, Tracker-beamptes en lede van die private veiligheidsbedryf, geloof vir hul goeie werk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Maryna ·

Kaping, ontvoering en afpersing? Wat van roof en diefstal?

Danie ·

Wanneer slaan hulle toe op plaasaanvallers en die korrupte spul daaragter.

Carel ·

Môre uit op parool & oormôre ‘n senior pos in die staatsdiens

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.