Polisie slaan toe op perlemoendiewe

Zukisa Sibango (Foto: Verskaf)

ʼn Vermeende perlemoensmokkelaar is verlede Vrydag in die Atlantis-streekshof in Kaapstad in die Wes-Kaap tot 20 jaar effektiewe tronkstraf gevonnis vir talle aanklagte, onder meer die onwettige besit van perlemoen. Hy is ook skuldig bevind op aanklagte van ontvoering en poging tot moord.

Zukisa Sibango (28) was in April 2017 lid van ʼn groep gewapende mans wat ʼn vragmotor en ʼn privaat sekuriteitsvoertuig wat perlemoen vervoer het, in ʼn lokval gelei het. Die vragmotor, wat deur die sekuriteitsvoertuig vergesel was, het ʼn perlemoenbesending van die Kaapstad Internasionale Lughawe in die Wes-Kaap na die eiland St. Helena wettig vir uitvoerdoeleindes vervoer.

Lt.kol. Philani Nkwalase, woordvoerder van die Valke, sê dié groep gewapende mans het op die R27, net buitekant Melkbosstrand, vanuit ʼn minibustaxi en ʼn sedan, op die sekuriteitsvoertuig begin losbrand. Die vragmotor en sekuriteitsvoertuig is tot stilstand gedwing. Die bestuurder van die sekuriteitsvoertuig het in die proses skietwonde opgedoen en moes hospitaal toe geneem word vir verdere mediese behandeling.

Nkwalase sê die groep mans het die vragmotorbestuurder gedwing om na Dunoon in die Wes-Kaap te ry. Daar het die groep mans hom in die sedan se kattebak ingedwing.

Die perlemoen is afgelaai en die vragmotor is op die N7, digby Morningstar, aan die bestuurder terugbesorg.

“Twee van die mans, onder andere Sibango, is net ná die voorval deur forensiese ondersoeke geïdentifiseer. Sibango se medepligtige is oorlede voordat hy in hegtenis geneem kon word,” vertel Nkwalase.

Sibango is in Augustus 2018 aangekla en daarna na die korrektiewe sentrum in Malmesbury oorgeplaas. Sy eerste hofverskyning in die Atlantis-streekshof was op 6 September 2018.

Hy het verlede Vrydag op al sy aanklagte skuldig gepleit. Hy het ook ʼn pleitooreenkoms met die staat aangegaan. Hy is tot 20 jaar effektiewe tronkstraf gevonnis en ook onbevoeg verklaar om ʼn vuurwapen te besit. Sy tronkstraf sluit in sewe jaar vir poging tot moord, drie jaar vir ʼn tweede poging tot moord, 20 jaar vir roof met verswarende omstandighede, vyf jaar vir ontvoering, vyf jaar vir die onwettige besit van ʼn vuurwapen en twee jaar vir die onwettige besit van ammunisie. Al die vonnisse sal gelyktydig uitgedien word.

Die polisie het die voertuig in die Paarl deursoek en sakke vol perlemoen ontdek (Foto: Verskaf)

Intussen het nóg twee perlemoensmokkelaars verlede Donderdag in die Paarl-landdroshof in die Wes-Kaap verskyn vir die bestuur van ʼn onwettige perlemoenverwerkingsaanleg.

Chen Zhuang (29) en Mohammed Hussein (28) is verlede Dinsdag in hegtenis geneem ná die polisie hul voertuig in Kerkstraat in die Paarl voorgekeer en deursoek het. Die polisie het ongeveer 8 250 onwettige stuks perlemoen gevind.

Zhuang en Hussein het uit die voertuig gespring en te voet probeer vlug. Die polisie het hulle agternagesit en in hegtenis geneem. Daar is op die voertuig asook die perlemoen beslag gelê.

Die ondersoek het die Valke na die perlemoenverwerkingsaanleg in St. Francislaan in die Paarl gelei. In die aanleg het die polisie verwerkingstoerusting en nóg perlemoen gevind, altesaam ter waarde van meer as R1,3 miljoen.

Die verdagtes sal na verwagting Woensdag weer in die Paarl-landdroshof verskyn en formeel om borgtog aansoek doen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

JohanR ·

Chen Zhuang (29). Dit klink Chinees? Ek dog Chinese is “model citizens” van Suid Afrika, en die 25 miljoen wat kom, sal geen misdaad pleeg nie? Wonder wat die swart meerderheid sal se waaneer daar eendag in SA meer Chinese is as hulle? Dankie ANC? In 2070 sal die leier van die ANC Long Dong Song Mareka Buthelezi wees!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.