Polisie slaan weer op O’Sullivan toe

Paul O’Sullivan en sy assistent, Sarah-Jane Trent, in Februarie by die hof. Foto: ANA

Die polisie het Vrydag ʼn klopjag op die forensiese speurder Paul O’Sullivan (62) se kantoor in Sandton uitgevoer.

Willie Spies, O’Sullivan en AfriForum se regsverteenwoordiger, het aan Maroela Media gesê die polisie het omstreeks 12:30 in “volle mag” daar opgedaag. “Paul is self nie by die kantoor nie, maar sy assistent, Sarah-Jane Trent, is wel,” het Spies gesê.

Volgens Trent (32) het die polisie glo ʼn deursoeking- en beslagleggingslasbrief en dring hulle daarop aan om op rekenaars, dokumente en kantoortoerusting beslag te lê.

“Dit is vir ons problematies aangesien Paul en Sarah staatsgetuies is in die onafhanklike polisie-ondersoekdirektoraat (Opod) se korrupsieondersoek teen lt.genl. Khomotso Phahlane [die waarnemende polisiekommissaris].”

Spies het gesê die klopjag is volgens sy mening Phahlane se manier om die polisiemag te gebruik om staatsgetuies te intimideer. “Ek dink ons sal waarskynlik later vandag weer ʼn hooggeregshofaansoek moet indien om die lasbrief teen te staan.”

Phahlane word deur Opod ondersoek rakende bewerings van korrupsie en dwarsboming van die gereg rakende die bou van sy persoonlike huis in die luukse Sable Hills-landgoed. Opod ondersoek glo hoe Phahlane, wat sy lewe lank nog ʼn polisiebeampte is, dit kan bekostig om die huis, wat glo ongeveer R8 miljoen werd is, te bou.

Phahlane ontken egter dat hy by enige misdrywe betrokke is. Hy het in Februarie hofstukke aan Opod, O’Sullivan, Trent en landdros JR Tsatsi beteken en wil daardeur ’n interdik teen O’Sullivan verkry wat hom verhoed om by Opod se ondersoeke teen hom betrokke te wees.

O’Sullivan en Trent is in Februarie vanjaar deur die polisie in hegtenis geneem.

O’Sullivan het op aanklagte van bedrog, intimidasie, afpersing, poging tot afpersing en oortreding van die Wet op die Onafhanklike Polisieondersoek-direktoraat (Opod) verskyn. Hy is op borgtog van R10 000 vrygelaat.

Sy borgtogvoorwaardes sluit in dat hy nie die Sable Hills-landgoed mag binnegaan nie. Hy mag ook nie met staatsgetuies kommunikeer of die name van die getuies aan ʼn derde party bekendmaak nie. Die saak is tot 19 Mei uitgestel, wanneer O’Sullivan saam met Trent in die hof sal verskyn. Trent is op borgtog van R5 000 vrygelaat.

Maroela Media het navraag by genl.maj. Sally de Beer, nasionale polisiewoordvoerder, gedoen en wag vir terugvoer.

Lees die vorige berig oor Paul O’Sullivan op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

AL ·

Wonder ek ook! O’Sullivan het senuwees van staal en murg in sy pype.
Sy assistent is ook n dapper vrou!
Moet jul nie laat boelie nie!

Piet ·

Dit was die einste O’Sullivan wat met “bitbull” se hulp die uwe Selebi en sy Mafia maatjie se onheilige verhouding oop gevlek het. Ek wil nie pessimisties klink nie, maar maak hy werklik n verskil? Hoe het Tokyo Sexwale die rykste in SA geword binne 5 jaar? Hy het nie eers R2000.00/maand verdie toe hy in die 90’s by die PTA stadsraad begin werk het nie. As mens die slang se kop afkap groei daar net weer 5 koppe uit – die land is in sy dinges.

Paul ·

O’Sullivan moet alle belangrike inligting op “cloud” toepassings stoor. Microsoft het “One Drive” Google het “Drive” en daar is ook “Dropbox” dan is dit buite die kloue van die korruptes.

zoom zoom ·

En hoe voel ons nuwe minister van die SAPD oor die inval of is dit sy veg vuur met vuur metode. Seker het Frikkie ook iets in sy kas. Hoop net die ras kwotas was in orde tydens die inval.

Shaun ·

As mense nogsteeds sensitiewe informasie op hulle rekenaars hou sonder om stappe te neem om dit te beskerm soek hulle vir moeilikheid. Mense in O’Sullivan se posisie moet sekerlik enkripsie gebruik of die cloud of ‘n kombinasie.

Alida ·

Ag asb dink julle hy is n pampoen? Hy weet wat hy doen om die inligting te bewaar.

w ·

Oe ek sali mind as iemand my wil ondersoek en ek nix het om weg te steek ni. Wys jou net Zuma se maatjies isi vlekkeloos ni.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.