Polisie soek dié man weens vrou se ontbinde liggaam in Bloem-gastehuis

"Ravon". Foto: Verskaf

“Ravon”. Foto: Verskaf

Die Parkweg-polisie in Bloemfontein het ʼn foto van ʼn man uitgereik wat hulle glo kan bystaan met hul ondersoek na die moord op Elmarie van Zyl (40) wie se ontbinde liggaam onlangs in ʼn gastehuis in die stad gevind is.

Konst. Sinah Mpakane, polisiewoordvoerder, het gesê die man, slegs bekend as Ravon, was glo die laaste persoon wat saam met Van Zyl gesien is. Mpakane het aan Maroela Media bevestig dat Van Zyl ʼn plaaslike bedelaar is.

Maroela Media het vroeër berig Van Zyl se erg ontbinde liggaam is omstreeks 18:00 op 11 Maart in ʼn gastehuis in McHardystraat in die woonbuurt Brandwag deur ʼn skoonmaker aangetref nadat sy ʼn onaangename reuk in die kamer geruik het.

Haar naakte liggaam is tussen die basis van die bed en die matras versteek. Sy is glo verwurg en die vermoede bestaan dat sy ook verkrag is. Daar is vasgestel dat sy Saterdag 7 Maart omstreeks 20:00 saam met ʼn onbekende man en vrou by die gastehuis ingeboek het.

“Die man is moontlik van Kimberley of van Kaapstad. Hy is by die gastehuis opgemerk voor hy die laaste keer op die N1-snelweg gesien is toe ʼn vragmotorbestuurder vir hom ʼn rygeleentheid gegee het,” het Mpakane bygevoeg.

Die polisie versoek enigiemand met inligting oor waar die man hom mag bevind om speurder-ao. Khaile Mathibela by 082 526 2759 te bel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.