Polisie soek dié twee wat glo kind wou gryp

Argieffoto

Argieffoto

Die Garsfontein-polisie het identikits uitgereik van twee mans wat vir ondervraging gesoek word in verband met ʼn voorval waarin ʼn baba glo amper ontvoer is by ʼn winkelsentrum in die ooste van Pretoria.

Volgens berigte was die ma en haar 14 maande ou babadogtertjie verlede maand by ʼn winkel in die Village-winkelsentrum in Moreletapark toe ʼn man die dogtertjie glo uit haar stootwaentjie gehaal het. Die ma het die kind glo uit die man se arm gegryp waarna hy en nog ʼn man die winkel verlaat het.

Ao. Dave Miller, woordvoerder van die polisie, het gesê die ma het die saak by die Garsfontein-polisiestasie aangemeld. Miller het gesê daar was die afgelope tyd talle gevalle waarin beweerde ontvoeringspogings op sosiale media die ronde gedoen het. Volgens Miller is dit egter noodsaaklik dat mense sulke gevalle by die polisie aanmeld. “Ons begin met ‘n ondersoek en as ons iemand in hegtenis neem, is dit noodsaaklik dat ons nog klaers het wat dan ʼn uitkenningsparade kan bywoon.”

Miller het gesê dit is nog nie duidelik of daar moontlik ʼn ontvoeringsindikaat is en of die twee mans wat vir ondervraging gesoek word dalk by só sindikaat betrokke is nie.

Die man in identikit A het ʼn blou-en-wit-blokkieshemp aangehad en het ʼn goue oorkrabber in sy regteroor. Hy het ʼn blou pet opgehad en is glo sowat 1,79 m lank. Die man in identikit B het ʼn blou T-hemp aangehad en ʼn blou pet opgehad. Hy is glo sowat 1,65 m lank en tussen 25 en 30 jaar oud.

Enigiemand met inligting kan die ondersoekbeamptes, kapt. Terblanche en ao. Malobe, skakel by 012 369 6900 of Crime Stop by 08600 10111.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Dee ·

Vind uit of de winkel nie dalk ‘n kameratelsel het vanwaar die fotos verkry kan word.

Theresa B ·

Siek gemors. Julle gaan sleg 2de kom………………………………

Gideon ·

Sulke goed sal maak dat mense toestemming gee dat daar mikroskywe ingeplant word, sodat indien kinders gesteel word mens die kinders kan kry deur opspoor agentskappe!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.