Polisie soek hulp ná video oor kindermishandeling

Skermskoot uit die video

Skermskoot uit die video

Die Gautengse polisie het Woensdag versoek dat die persoon, wat ʼn video geneem het van ʼn kleuter wat by ʼn dagsorgsentrum in Rosettenville, Johannesburg, vasgebind is, na vore sal kom om hulle met hul ondersoek by te staan.

Die opspraakwekkende video is Dinsdag deur die Daily Sun beskikbaar gestel. Klik hier om die video te sien.

Labeeba Truter (58), die eienaar van die Petite Bumper-dagsorgsentrum, waar die beweerde mishandeling plaasgevind het, is intussen in hegtenis geneem.

“Die polisie ondersoek ʼn saak van kindermishandeling,” het kapt. Tshekiso Mofokeng, ʼn polisiewoordvoerder, Woensdag gesê. “Die eienaar van die dagsorgsentrum word tans deur die polisie ondervra. Ons is besig met die ondersoek en is ook besig om werkers by die dagsorgsentrum te ondervra.” Hy versoek dat die persoon, wat die video geneem het, die polisie met die ondersoek sal help.

Die Daily Sun het Dinsdag berig die kleuter is glo deur die eienaar in ʼn badkamer toegemaak. Die kleuter se arms en bene is vasgebind en haar mond toegeplak, omdat die eienaar na bewering wou televisie kyk. Die kleuter is in ʼn stadium tussen ʼn muur en die toilet vasgekeer.

Truter het glo aanvanklik ontken dat dit haar badkamer is, maar nadat sy die video gesien het, het sy toegegee. Sy voer aan sy is nie verantwoordelik vir die voorval nie en het nie geweet dit is kindermishandeling nie. Sy het gevolglik nie die voorval by die polisie of by die kind se ouers aangemeld nie.

Mofokeng sê ʼn saak van kindermishandeling is oopgemaak, maar Truter is nog nie aan die saak verbind nie. “Indien die vrou aan die saak verbind kan word, sal sy aangekla word,” het hy gesê. -SAPA

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Nadene McLintock ·

Sluit haar toe!!!! Dit is hartseer om te sien dat n mense nie eers ju kind by n Kleuterskool of Dagsorgsentrum kan los nie want jy weet nie wat met ju kind gaan gebeur nie. Kinders is ons toekoms en as mense hulle so kan hanteer dan het hulle nie harte nie. Sies man!!!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.