Polisie soek na dié ‘gevaarlike’ man

Jacques Arthur Malot (Foto: Verskaf)

Die Gautengse polisie is op die spoor van ’n “gevaarlike man” wat glo daarvoor berug is dat hy vroue teiken. Dit volg nadat nog ’n vrou beweer dat sy onlangs deur sy sjarme mislei is.

Aanklagte van seksuele aanranding, ontvoering en motordiefstal is in dié betrokke geval teen Jacques Arthur Malot aanhangig gemaak.

’n Lasbrief vir Malot se inhegtenisneming is uitgereik. Alle spore het egter doodgeloop in die polisie se soektog na hom.

Dié spiertier word daarvan beskuldig dat hy ’n jong vrou van Pretoria verlede jaar vir sowat ’n maand lank in haar huis aangehou het. Hy het haar ook glo later ontvoer.

Ao. Johan van Dyk, woordvoerder van die polisiestasie in Sinoville in die noorde van Pretoria, sê hy en nog ’n polisiebeampte is in Oktober verlede jaar na die vrou se huis in die plaaslike polisiëringsgebied ontbied, nadat haar vriendin alarm gemaak het.

Malot het in die stadium by die vrou ingetrek nadat sy hom vroeër op sosiale media ontmoet het.

Van Dyk vertel dat Malot aanvanklik sy beste voet voorgesit het nadat hy die slagoffer ontmoet het.

“Hy was baie sjarmant en het haar na al die beste restaurante geneem. Hy het voorgegee dat hy woonstelle in ’n kusdorp het. Hy het later vir ’n naweek vir haar gaan kuier en toe glo net geweier om weer huis toe te gaan.”

Malot het na bewering sonder die vrou se toestemming by haar huis ingetrek, voordat hy mettertyd glo al meer obsessief geraak het. Volgens die slagoffer het hy haar later mondelings en fisiek aangerand en nie toegelaat om haar huis te verlaat nie.

Die slagoffer se vriendin het in Oktober by die huis opgedaag om vir die slagoffer te gaan kuier. Malot het egter geweier om die vriendin by die huis in te laat. Dit is toe dat sy die slagoffer vanuit die huis hoor skree het.

Die vriendin het dadelik na die Sinoville-polisiestasie gegaan en aangedui dat iets nie pluis is nie. Die polisiebeamptes is op 15 Oktober na die huis waar hulle vir Malot en die vrou uit die huis gelok en van mekaar geskei het.

“Toe ek en die vrou wegstap, toe sê sy ‘help my’,” onthou Van Dyk.

Die polisiebeamptes het daarop aangedring dat die vrou saam met hulle gaan en Malot is aangesê om by die huis agter te bly. Die vrou en die polisiebeamptes is toe by die huis weg en dadelik hof toe, waar die vrou ’n beskermingsbevel bekom het.

Sy het in dié stadium ’n klag van seksuele aanranding aanhangig gemaak.

“Toe verdwyn Malot,” vertel Van Dyk aan Maroela Media.

Die vrou het enkele weke by haar vriendinne gewoon voordat sy op 27 Oktober na haar huis teruggekeer het. Hier het Malot haar glo ingewag.

Die vrou is met haar tuiskoms terug in haar motor geboender en Malot het met haar weggejaag. Sy het later by ’n vulstasie in die ooste van Pretoria ontsnap.

Malot het wéér verdwyn en klagtes van ontvoering en motordiefstal is aanhangig gemaak.

Van Dyk sê die vrou se motor is kort ná die ontvoering by die Menlyn Maine-winkelsentrum in die ooste van die stad gewaar. Daar was egter geen teken van Malot nie en die sentrum se beeldmateriaal toon dat hy in ʼn Uber-taxi geklim het.

Hy word sedertdien gesoek.

“Verskeie vroue het intussen na vore gekom om te sê dieselfde het hulle oorgekom met hierdie man,” sê Van Dyk.

Dit lyk of Malot al jare lank vroue teiken. Vir sommige is daar glo vertel dat hy ’n rugbyspeler vir die Blou Bulle is, terwyl ander slagoffers onder die indruk was dat hy ’n versekeringsmakelaar is.

Die polisie doen nou ’n beroep op die publiek om enige inligting wat kan help met die inhegtenisneming van Malot na vore te kom. Inligting kan by 071 675 6347 aangemeld word.

Van Dyk waarsku die publiek dat Malot “gevaarlik” is en nie gekonfronteer moet word nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

8 Kommentare

jongste oudste gewildste
JM

Hoop die vark word gevind en lank toegesluit!

Diline

SKUIM van die aarde!

JohanR

Jy kry hulle! Soos ‘n leeu wat op sy prooi wag, of volgende slagoffer wag…..en dan trek hy nog in ook!

Elize

Hoeveel swindlers nog?

sopbeen

Die ou klink vir my so bietjie psychotic