Polisie soek ooggetuies van stadiongeweld

‘n Skermskoot uit ‘n video van die chaos op die veld.

Die polisie in KwaZulu-Natal het ʼn beroep gedoen op ooggetuies van die geweld ná ʼn sokkerwedstryd op 21 April by die Moses Mabhida-stadion in Durban om na vore te kom.

Brig. Jay Naicker, woordvoerder van die polisie, het gesê ondersoekers wag steeds op ooggetuies om die polisie te nader sodat verklarings afgeneem kan word.

Naicker het ook ʼn beroep gedoen op diegene wat tydens die voorval beseer is om die polisie in kennis te stel. “Baie van die mense wat beseer is, het net die stadion verlaat nadat hulle mediese behandeling gekry het en nie hul kontakbesonderhede aan die polisie verskaf nie,” het Naicker gesê.

Die polisie meen ooggetuies sal hulle kan help om die skuldiges vas te trek wat deelgeneem het aan die geweld en verwoesting van eiendom die betrokke dag.

Maroela Media het vroeër berig die geweld het ontstaan die oomblik toe die eindfluitjie blaas by ʼn Nedbank Cup-halfeindstryd tussen Kaiser Chiefs en Free State Stars. Die Chiefs het die wedstryd met 2-0 verloor.

Honderde ondersteuners het op die veld gestorm en spelers en veiligheidswagte moes vir hul eie veiligheid vlug. Terwyl die wedstrydkameras steeds die gebeure vasgevang het, het toeskouers begin om stadionstoele aan die brand te steek, skareversperrings en toegangshekke te beskadig, kameratoerusting te vernietig en ʼn veiligheidswag aan te rand. Altesaam 18 mense is in die voorval beseer.

Zandile Gumede, burgemeester van eThekwini, het later gesê die skade aan die stadion beloop na raming R2,6 miljoen.

Enigiemand wat ʼn ooggetuie van die geweld was of die polisie andersins kan bystaan in hul ondersoek na die voorval, word versoek om kapt. Reddy by 082 458 5630 of AO Mlungwana by 082 662 7764 te nader. Alle inligting sal as vertroulik hanteer word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Casper Labuschagne ·

Gebrekkige opleiding en onbekwame amptenare moet die skuld kry, nie die toeskouers nie. Wat eintlik hier gesê word, is nie dat niemand hul besonderhede verskaf het nie, maar dat die polisie wat op die toneel was nie die ooggetuies se besonderhede afgeneem het nie. Toe daar ‘n spesiale ondersoek gelas word, toe ontdek die ondersoekspan dat hul geen getuie kan kontak nie.

CHRISTA ·

Casper, ek het nie geweet die amptenare en die stadium geplunder en aan die brand gesteek nie, ek het oor die radio gehoor en in koerante gelees dat die TOESKOUERS dit gedoen het!!! Volge jy nou die ANC se modus operandi waar ALS altyd IEMAND ANDERS se skuld is?

N Lourens Reitz ·

Ooggetuies sal hulle kan help???
Ha ha ha. Brigadier jy gaan wag daarvoor.

Oom Kalahari ·

Watter ooggetuies, almal het weggehardloop behalwe die vandale wat op aanranding, beskadiging van kamera en stadion toerusting betrokke was. Meer duidelikheid van oorteders gaan nie oorgedra word behalwe wat op kameras vasgevang was. Casper hierbo het die regte stelling gemaak.

Gerrit ·

Ek dink die polisie moet die media vermy want hoe meer ek lees hoe belagliker en amusant vind ek die vlak van onbevoegdheid by hulle.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.