Polisie soek tuinier wat werkgewer aanrand

Argieffoto

Argieffoto

Die polisie van die Vrystaat is op soek na ʼn tuinier wat een van sy werkgewers in Kroonstad aangerand en beroof het.

Kapt. Stephen Thakeng, ʼn polisiewoordvoerder, het Vrydag gesê die voorval het verlede Vrydag plaasgevind nadat die tuinier op sy salaris aangedring het.

“Die 53-jarige vrou was binne die huis terwyl die tuinier, wat al langer as ‘n jaar vir die vrou en haar man werk, buite in die tuin besig was,” het Thakeng gesê.

Volgens Thakeng het die vrou se dogter ʼn onbekende hoeveelheid kontant vir haar gebring om ander werknemers wat vir haar werk, te betaal.

“Hy het aan die kombuisdeur geklop ná die dogter daar weg is. Die vrou het gesien dit is die tuinier en het hom ingelaat. Hy het ʼn ysterpyp by hom gehad.”

Thakeng het gesê die man het op sy salaris aangedring. Die vrou het aan hom probeer verduidelik dat haar man hom gewoonlik betaal en dat haar man nie by die huis is nie.

Hy het toe die vrou met die pyp aangerand en haar na die kantoor in die huis gedwing. Daar het hy haar gedwing om op ʼn stoel te sit, en haar hande en voete met elektriese kabels vasgebind.”

Die tuinier het al die geld in die huis gevat en gevlug. ʼn Saak van huisbraak is aanhangig gemaak.

“Die egpaar het nie ʼn afskrif van die tuinier se identiteitsdokument gehad nie en kon ook nie aan die polisie die man se residensiële adres verskaf nie. Die polisie kon later vasstel dat die man van Lesotho afkomstig is.”

Thakeng waarsku huiseienaars om te verseker dat hulle ʼn afskrif van enige persoon se identiteitsdokument het, as hulle iemand aanstel om by hul huise te werk. “Mense moet ook die werkgewer na hul residensiële adres vergesel om seker te maak hulle bly daar,” het hy bygevoeg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Jasper ·

Mense, mense kry tog asb. die boodskap. Ek het ook groot geword met n goeie dierbare ou Fiena en jare later my kinders groot gemaak met n getroue ou Maria. Toe kom Anna, net so getrou en steel eendag my vuurwapen en geld. Ek en my vrou doen al vir jare ons eie huiswerk en tuin. In die tye wat ons nou lewe, is lang gras en bossies minder werd as jou lewe !!

Jasper ·

Maroela. Net n versoek. Ons sukkel soms om ons kommentare geplaas te kry. Partymaal raak dit net weg of word 2 x geplaas. Dankie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.