Polisie spook om dienste by kriminele rekordsentrum te hervat

Die kriminele rekordsentrum in Pretoria. (Foto: Facebook / CouncilAssist for Educators)

Die polisie spook om dienste by sy kriminele rekordsentrum in Francis Baardstraat in die Pretoriase middestad voort te sit nadat dit vroeër vandeesweek gesluit is.

ʼn Sogenaamde betalingsdispuut is aanvanklik aangevoer as die rede waarom die sentrum gesluit is, maar die polisie sê nou dit is nie die geval nie.

Maroela Media het vroeër berig dat aansoekers en koeriers Dinsdag voor dooiemansdeur te staan gekom het en nie klaringsertifikate by die sentrum kon afhaal nie.

Die polisie het toe gesê dat die sentrum ʼn “agterstand” in die uitreiking van klaringsertifikate ondervind.

Die polisie het intussen bevestig dat die sentrum wel gesluit is.

“Die sentrum het geen agterstallige huurbetalings nie, aangesien huurbetalings deur die nasionale departement van openbare werke en infrastruktuur hanteer word,” sê kol. Athlenda Mathe, polisiewoordvoerder.

“Ons probeer om dringend die geskil op te los wat tot die dooiepunt gelei het.”

Tussentydse maatreëls word nou ingestel om te verseker dat dienslewering by die sentrum nie verder onderbreek word nie.

“Om kontinuïteit te verseker is lede na ander nabygeleë kriminele rekordsentrums ontplooi om dienste daar voort te sit,” sê sy.

“Ons wil lede van die publiek verseker dat die bestuur met die betrokke owerhede in gesprek tree met die oog daarop om ʼn vriendskaplike oplossing tussen die geraakte partye te vind.”

Vir diensleweringsdoeleindes word mense gevra om hul aansoeke by die Bothongo West Plaza se hoofingang af te laai.

“Personeel sal enige dokumente hier afhaal en die verwerking van sodanige aansoeke fasiliteer.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

6 Kommentare

jongste oudste gewildste
Marius

Nog ‘n belangrike diens wat misluk.

Johann

Ek wens daar was n alfabeties numeriese lys van al die instansies wat onder ANC wanbestuur, disfunksioneel is? ‘n Feitelike verwysing wat elkeen voor die ANC kaders en hul hoof, RamNocio, se neuse kan ophou as BEWYS dat magsmal vergrypende onbevoegde anargiste, nie in staat is om iets te bedryf of bestuur nie.

Andre

Noodsaaklik diens, maar ons sluit eerder ons deure vir die publiek en verdien ons salaris om by die huis te sit. Tipies ANC en BEE mentaliteit

Mariana

Wat is daar in die SAPD wat nie in agterstand is nie? Hoekom is daar al die agterstande in als? Mens sou sweer niemand werk is al daai afdelings nie…..maar snaaks dat die salarisse nie ook “agter” is nie. Cele en kie kry elke maand hul salarisse maar het niks gedoen om dit te verdien nie. So val als uitmekaar…..

Derick

En tannie Patricia ontken heeltyd dat sy van niks bewus is nie. Hoe op aarde?