Polisie spring om ‘Herbal Blend’-verkope te keer

“Herbal Blend” word tans in ongemerkte swart pakkies verkoop met slegs die geur van die inhoud wat op die pakkie aangedui word. Foto: Maroela Media

Hoewel dit nog nie bekend is wat presies die bestanddele is van die jongste dwelmmiddel in Pretoria wat oor die afgelope paar dae wyd opslae gewek het nie, het die polisie reeds stappe gedoen om dié produk van winkels se rakke te verwyder.

Kapt. Augustinah Selepe, woordvoerder van die polisie, het aan Maroela Media gesê beamptes het reeds verskeie tabakwinkels, drankwinkels en snoepwinkels in die Pretoria-Wes-gebied besoek om opdrag te gee dat dié produk van die rakke verwyder word hangende die uitslae van laboratoriumtoetse. In sommige gevalle is daar ook op van die produkte beslag gelê.

“Ons werk saam met gemeenskapspolisiëringsforums om vas te stel waar hierdie middel oral verkoop word en verkope daarvan stop te sit. Ons het ook pamflette begin versprei om mense oor die produk te waarsku,” sê Selepe.

Sy sê hoewel daar nog nie vasgestel is wat die oorsprong van die produk is nie, volg die polisie tans alle moontlike leidrade op om die vervaardiger van die middel te identifiseer. Die ondersoekbeampte in die saak neem tans nog verklarings af by gebruikers, ouers van gebruikers en ander belanghebbendes in die verband.

Maroela Media het vroeër berig dié produk, bekend as Herbal Blend, Blazing of Puff, het onder die publiek se aandag gekom nadat video’s op sosiale media die ronde begin doen het van jong mans en kinders van Pretoria wat oënskynlike aanvalle en psigotiese episodes beleef nadat hulle die middel gerook het. Van die rokers is maar net 14 jaar oud.

Minstens 14 mense in Pretoria moes mediese behandeling ontvang nadat hulle die middel gerook het. Die gebruikers het verskillende reaksies getoon, waaronder psigotiese aanvalle, hallusinasies, braking, diarree, lomerigheid en hartkloppings.

Sowel Selepe as Xander Loubser, paramedikus en woordvoerder van Best Care-ambulansdienste, het aan Maroela Media bevestig hulle dra geen kennis van enige sterftes wat met dié middel verband hou nie.

Die middel lyk baie soos dagga, hoewel daar baie meer as dagga in dié mengsel is. Foto: Best Care-ambulansdienste

Dr. Neville Vlok, ʼn ongevalledokter by ʼn bekende hospitaal in Pretoria, het reeds vroeër vandeesweek basiese toetse gedoen om te bepaal wat in die middel is. Dié toets is as’t ware ʼn reaksietoets wat aandui of sekere bestanddele in die middel waargeneem kan word. Vlok het verduidelik die toetse is egter nie so akkuraat soos ʼn formele ontleding in ʼn laboratorium nie en kruisreaksies in die bestanddele kan die toetsresultate beïnvloed.

Nietemin het dié toetsuitslae reeds aangedui daar is rede tot kommer. “Die toets het getoon die basismiddel is dagga. Of dit daggablare of dagga-olie is, is nie bekend nie, maar die aktiewe bestanddeel is tetrahidrokannabinol en dit is die basismiddel van dagga. Wat ons ook gevind het, is dat daar stimulante in is en dit is nogal wat ek verwag het toe ek die video’s van die gebruikers gesien het. Ons het vir seker tik oftewel metamfetamien daarin gekry, asook Ecstacy en tekens van Mandrax,” sê hy.

Kenners vermoed die dagga in Herbal Blend is sintetiese dagga wat ʼn ander uitwerking op die gebruiker het as natuurlike daggaplante. Hoewel sintetiese dagga, oftewel kannabinoïed, chemiese verwantskappe met cannabis het, kom dit nie in die natuurlike daggaplante voor nie. Die chemiese en farmakologiese eienskappe en gevolge van sintetiese kannabinoïed is tot groot mate onbekend omdat dit nie ʼn gekontroleerde farmaseutiese produk is nie.

Johan*, een van die jong mans wat in ʼn video gesien kan word kort nadat hy Herbal Blend gerook het, het aan Maroela Media gesê hoewel hy nie die voorval ten volle kan onthou nie, kan hy onthou dat die Herbal Blend hom heeltemal anders laat voel het as wat dagga doen.

“Gewoonlik [laat dit my] stil en rustig voel, jy is maar net by jouself. Maar hierdie keer was dit glad nie dieselfde as die vorige kere nie, dit was baie sterker gewees. Ek kan nie veel onthou nie, maar ek het gevoel asof ek vasgevang was in my eie gedagtes en nie daaruit kon ontsnap nie. My oë was oop, maar elke keer dat my oë toegegaan het, het ek gevoel asof ek vasgevang is in hierdie plek waaruit ek nie kan kom nie.”

“Johan” is die jong man wat in een van die video’s gesien kan word waar hy ʼn erge psigotiese reaksie toon nadat hy “Herbal Blend” gerook het. Foto: Maroela Media

Dr. Jaco van Niekerk, ʼn spesialis-traumadokter, verduidelik sintetiese kannabinoïed is iets heeltemal anders as cannabis. “Sintetiese kannabinoïed is in 1970 ontwikkel. Eers in 2002 het dit in die algemene publiek se hande beland waar dit dan nou misbruik word. Dit is natuurlik nie ʼn farmaseutiese middel nie en dus is daar nie behoorlik navorsing op gedoen nie. So, ons weet nie eintlik wat die langtermyn-uitwerking hiervan is nie.

“Jy kan die korttermyn-uitwerking sien en dit dan vergelyk met die data wat jy het. Jy weet wat cannabis doen, jy weet wat kannabinoïed doen, maar daar is nie langtermynstudies hieroor nie. Ek dink die groot ding is dat mense die twee met mekaar verwar en veral nou met die onlangse hofuitspraak [oor die privaat gebruik en besit van dagga] voel mense nog gemakliker om dit te gebruik, maar kannabinoïed en cannabis is nié dieselfde ding nie.”

Van Niekerk verduidelik die groot verskil tussen dagga en sintetiese dagga is die uitwerking daarvan op reseptore in die liggaam. “Almal dink dagga is dagga, maar sintetiese dagga het eintlik ʼn baie ander uitwerking op die gebruiker as wat mens sal verwag van dagga,” sê Van Niekerk.

“Kannabinoïed werk net op een van die reseptore. Waar natuurlike cannabis of dagga op die CB1- en CB2-reseptore werk, werk sinteties vervaardigde kannabinoïed net op die CB1-reseptor. So, die gebruiker kry baie ander newewerkings – hartkloppings, paranoia, naarheid, braking, duiseligheid. En dan hierdie irrasionele optrede van hulle wat hulle agterna nie kan onthou nie.”

Luister gerus na die onderstaande podsending van ʼn gesprek op GROOTfm 90.5 se GROOTtrauma met Pieter Cloete oor die afgelope paar dae se gebeure, vals gerugte rakende Herbal Blend en kenners se insette oor dié middel.

*ʼn Skuilnaam is gebruik om die identiteit van die man te beskerm.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

49 Kommentare

Wanda ·

Maak mos dagga wettig. Kom ons kyk waar gaan hierdie gruwel stop…..

WUKUWanda ·

DAGA DAGA DAGA —- dit is sleg die middel wat gebruik word om al die ander gemors wat in “herbal BLEND ” is te rook —– Mandrax , extasy, noem dit miskien rotgif???
komaan – haal Coke van die rake af – mense gebruik dit om dronk te word……

linda limbo ·

hoekom rook jy die goed as jy nie seker is wat daar in is
kweek jou eie dagga en rook dit, maak olie of bak muffins met die botter
anders kan jy die palmboom ook rook
julle gee mense so ons wat ander mense gesond maak ‘n slegte naam!

Lizl ·

Linda Limbo… enige iemand wat dagga rook het `n slegte naam. Ek het geweet het wettigiging van dagga is die begin van baie ellende, en kyk nou ! Enige iemand wat dagga rook is `n kokkelol in my oë. En moenie vir my vertel dis vir medies nie. Dagga olie en dagga room maak jou nie hoog nie. Mense wat ernstig siek is gebruik dit, sonder die newe effekte. As jy dit rook… WIL jy hoog wees.

Allie ·

Ek gebruik dagga olie…..maak dit my slegte mens?????
Sjoe….

Gysbert Stander ·

Lizl, dit vat een kokkelol om ‘n ander kokkelol uit te ken.
Nee, ek rook nie dagga nie, selfs nie eens sigarette nie.

Just my thoughts….
Use it, don’t use it….

Reinman ·

Sjoe, ek is n professionele ingenieur (nie n titel wat sommer aan enigiemand toegeken word nie) en ek rook amper daagliks dagga. Ek kan jou belowe eks fikser as jy (ry gereeld 100km fietswedrenne), en dat my denke aansienlik meer krities is as joune. Ai, daar staan en daal ek nou na jou vlak en beledig jou, sjoe, lyk my jyt n groter uitwerking op my as enige ander middel.

wielie ·

Joh mense ……….. dis nie die dagga nie dis die gemors wat saam dit gemeng is! Asseblief bid vir ons kinders hier in die Weste van Pretoria – en oral. Die gemors is oral op amper elke hoek en draai te koop en self by huise :((

chants ·

Ag Lizl. Kokkelol regtig???? Dagga olie maak jou slaap soos n babba…weet dit want ek gebruik dit…o ja en rook ook,,,,Pla niemand en niks nie….julle is verveeld. die goed is nie dagga nie….

pro Dagga ·

Verseker ‘n paar mense hier wat geen idee het wat dagga aan mens doen. Dagga kan geensins enige vd bogenoemde uitwerkings veroorsaak nie. Dis die mengsel van tik< mandrax ens wat die veroorsaak het. Dis 2018 en Google is ons vriend. lees op oor Tik, mandrax & Ketamien, voor julle kommentaar lewer

Didi ·

Waar word die goed aangekoop… daar moet seker ‘n Rep wees wat die goed verkoop… hy of hulle gaan seker missing in action wees en net gou die verpakking verander.

Lulu ·

Om gewone dagga wat met sigaret twak te rook is nie meer goed genoeg vir party mense nie en die “high” ook nie dis hoekom hulle allerhande gemors saam dit meng om nog “higher” te word! Ek het ook al gewone dagga wat met sigaret twak gemeng is gerook en ek het ongelooflik sleg gevoel maar niks vreemds opgetree of iets nie. Ek sal dit nooit weer rook nie maar ken mense wat dit wel nog rook en hulle is net gechill heeltyd. Mense moet ophou om gemors saam te meng dan sal daar nie n probleem wees nie! Hoop die kinders se oe gaan oop en stop die nonsens!

John ·

Dagga sal nog nooit dit doen nie. Ps… Meng jou 6 biere met n paar brandies en kyk hoe hak jou koppie ook uit.

ANONIEM ·

stem saam moenie dagga die probleem maak nie dit is die ander bestandele wat n uitwerk het op hierdie.

Piet Pompies ·

Dagga is nie die probleem, dit is die oplossing, kom ons almal rook dagga dan maak ons of die gebruik van “Herbal Blend” goed is.
Dagga het sy mediese waarde en in my lewenservaring het ek mense ontmoet wat dagga rook en hulle koppe het geraas soos donderweer.
Herbal blend val in dieselfde kategorie en net mense wat onder hewige weerstoestande lewe gebruik dit, dit blits, die donderweer slaan en die hael val in hulle koppe.

koos1 ·

Piet Stompies, en ek het al hordes mense ontmoet wat baie drink (ek praat nou van brandewyn ens.) en hulle koppe raak ook mal van te veel. En dit is wettig???
Dit kom alles neer op die gebruik daarvan. Ek geniet ook ‘n dop, maar net naweke en binne perke, so kry jy ook jou natuurlike dagga gebruikers wat binne perke gebruik. EN natuurlik die mense wat dit vir mediese redes DRINK. Hulle koppe raas glad nie!

Zolle rook vs ‘n Herbal Gehuff en ‘n Gepuff ·

Party mense kan baat vind om heeltyd “gechill” te wees. Klink wonderlik en rustig en geen gekerm om jou ore nie.

Nietemin dwelms vernietig lewens en hierdie herbal gehuff en ‘n gepuff is definitief nie goed nie. Dit klink of dit mense laat optree of hulle daardie blou spirits waarmee mense vensters was gedrink het!! Los liewer al daardie nare goete uit.

HPV ·

Waarom op aarde moet mens bedwelm deur die lewe gaan? Wat kan lekker daaraan wees om letterlik ‘n permanente “hangover” te hê?
Persoonlik verkies ek om heel tyd te weet wat om my aangaan, nugter, goed en gesond te voel. Dit is slegs my mening met RESPEK teenoor mense wat sulke middels as kronies of kanker pynmedikasie gebruik.

Johann cb ·

Ai mense, staak tog die persoonlike aanvalle en konsentreer op die artikel!

sweiz ·

Die Pakistanis wat n winkeltjie op elke hoek van Pretoria het glo ek het ook n aandeel aan die dwelm euwel.

sweiz ·

Die ander probleem is natuurlik die feit dat ons n klomp mense in blou uniforms het wat hulself polisie noem en nie weet wat hulle werk eintlik behels nie.

Foxi ·

Ek weet van vele mense wat dagga gebruik (rook). Hel man, hulle asems stink so dat jy voel jy wil verstik!

Lizl ·

Dagga is gemors. Punt. ALLE dwelms is gemors. Geen vooraanstaande maatskappy gaan jou in diens neem as hulle weet jy rook die goed. Selfs mense wat gewone sigarette rook sukkel om werk te kry. Kry selfbeheer en self respek en los die gemors. Om my nou te wil vertel n dwelmmiddel is goed??? Regtig, luister jy mooi na jouself… Jy reken dwelms is goed?

Nugter ·

Lizl – gebruik jy hoofpyn pille? Dit is dwelms. Gebruik jy nagmaalwyn? Dit het n dwelm middel in wat beteken jou kerk gee jou dwelms. Wat ‘n hipokraat!!!! Gebruik jy verkoue medisyne? Dit bevat dwelms. Dwelms is goed vir die doel waarvoor dit gebruik word. Dagga is DIE vernaamste plant met medisinale waarde en mens kan dit gebruik sonder om hoog te word.

Boet Fasie ·

Die manne wat die.geld.maak gee nie om watse gemors hulle verkoop nie , solank hulle die kinders verslaaf kry en geld maak. Sies dan praat party mense dit nog goed

Boet Fasie ·

Die manne wat die.geld.maak gee nie om watse gemors hulle verkoop nie , solank hulle die kinders verslaaf kry en geld maak. Sies dan praat party mense dit nog goed .

Orals beskikbaar ·

Verrassing!!!!!!! Dit is by alle Chinese winkels, tabak winkels, vlooimarkte en ander in Boksburg, Benoni en Kempton Park area. Gaan skole toe en jul sal verbaas wees hoeveel kinders dit of soortgelyk rook. My kleinseun (nie ‘n gebruiker nie) se die kinders in die hoerskole rook almal dit (miskien nie met die ekstra dwelms in nie) want blykbaar is dit wettig verkrykbaar soos ek bo genome het. Wakker word polisie!!! Die kinders vernietig hulself.

Zelda ·

Regtig? Almal…. ek dink jou kleinseun oordryf. So hy is die enigste een wat dit nie rook nie. Ek en ander lesers hier het ook kinders en kleinkinders op hoërskool en hul rook dit nie.

L ·

Ouers…waarom rook julle jong skool gaande kindertjies enigsins? Of dit nou blare, twak of dagga is….hoekom rook die kinders?

Karlien ·

Het nie almal hier die berig gelees nie.
Die “produk” bevat sintetiese dagga.
Dit is NIE natuurlik gekweekte plant dagga nie, daar is ‘n baie groot verskil.

carla van der Spuy ·

Die sakkies sonder enige handelsmerke daarop laat dit reeds verdag lyk!

Johan ·

Rook die gemors. Vrek en kry klaar. Ek sal nie eers n traan pik nie.

Selma ·

Ek dink die goed is reeds landswyd. Gisteraand op Klerksdorp se fb het die dorp se Sekuriteitseenheid gemeld dit is reeds daar ook in omloop.

Alida ·

Dagga is mos nou gewettig. Die verkopers sit hierdie gemors by en maak meer geld. Hulle voel vere vir die rokers van die gemors en wat dit aan kinders doen.

Anoniem ·

Mens noem dit ‘n fyn verbloemde “herbal mix” wat flakka bevat. Kom ons kyk wat die uitslae sê. ?

Jeremia ·

Kom ons raak almal gerook – op die wate Jakob of heel sinteties. Dan kan ons nie onthou wie aan bewind is en in watter gemors land en die ekonomie is nie.
En dan kan ons ou moan-gatte kyk of ons voertuie dalk op dagga olie sal loop óf enige sintetiese dwelmwalm.
En net om die drankvoorstanders en – teenstander te akkommodeer: meng sommer die dwelms met drank vir ‘n beter “high”.
En indien ons môre wakker word is ons probleempies net nóg groter want dan het ons gesondheidsprobleme, ons koppies raas en ons het boonop duur gewoontetjies om aan die gang te hou.
Dis nou die onderste swak gedeelte van Tamatiestraat en die nommer daarvan is bekend aan diegene wie se ogies oop is en die verstand nog helderdenkend is.

Spark Plug ·

Los die dagga rokers dat hulle rook en klaarkry..dis wat die regering wil he. Dis mos wettig, hoekom nou daaroor kla

Stripes ·

Ek is self ‘n tabak-roker en rook al van baie kleinsaf. Daardie jare was daar nognie soveel inligting oor die nagevolge beskikbaar nie maar dit is wel vandag. Nou wonder ek net waar loop dinge dan nou skeef dat die mensdom hul so vergryp aan dwelms. Is dit groepsdruk, wil hulle “in” wees of is daar te veel geld in omloop? Ek weet nie, ek wonder ook maar net maar stem dat die gemors so vinnig moontlik verwyder moet word en die nodige stappe geneem word om te keer dat nog sulke gemors op straat beland. Een van die dae is die “zombie” dwelms seker ook hier.

Janneman ·

Doen julself n guns en hou geheel en al op om enige iets te rook , ek was self n roker vir amper 10 jaar (Tabak) , nou…Tabak rook laat stink n mens se asem , weet jul hoe laat stink daggarook n mens? dis afgryslik…en om dagga te rook is nie so voordelig soos die pro dagga mense dit maak nie , tensy hulle van geheueverlies en hartkwale hou , want dit verhoog jou kans baie om hartsiektes te kry . as jy wil hoog voel , sit n 1 liter black label in die son en gorrel hom…Dagga is gagga….Stepping stone na ander party drugs en na die party drugs kom tik en flakka….mense gaan dood agv van hierdie goed …die menslike liggaam was nie gemaak om rook in te asem nie , suurstof alleenlik…anders het die Vader ons treine genoem en nie mense nie.

JACO ·

Dis nie Dagga nie !!!!!! net so goed jy is n drinker en gaan koop selfgemaakte bier met battery acid in !

Michelle ·

Ek stem saam jou Mnr Huff en Puff.

Dis omdat mense die goedkoop manier wil gaan en nie regte geld wil betaal vir die regte dagga nie….. wat okal dit mag kos.
As n mens dagga wil rook, rook dit hoekom moet iemand so ver gaan as om dit met drugs te meng? Tiepies druggies niks is ooit genoeg nie……nou moet hulle n ander tiepe high soek. My punt is, betaal maar eerder vir jou regte dagga die regte geld en laat die druggies met hulle “cheap skate”gemors mekaar maar uitroei.

Colin ·

Kom ons wees realisties en hou op om ons self en ander mense te probeer fnuik deur te sê dat dagga rook skadeloos is. Dagga is ‘n toeganspunt tot erger vorms van dwelms. Sodra mens gewoond raak aan dagga se “kick” dan loop soek jy sterker dwelms. My vrou en talle ander mense is testamênt. Prys die Here hy het haar vrygestel van dwelm gebruik af.

Die wettigmaking van dagga vir persoonlike gebruik was ‘n massiewe fout. Ons gaan nog baie lang trane huil nadat ons in die oë van ons verslaafde en verlore kinders kyk.

Dagga is gagga! PUNT! ·

Die mense wat dagga kan “handle” en net by dagga bly, good for you!!!!! Maar ongelukkig bly kinders nuuskurig en wil altyd iets nuuts probeer! Party van hulle vat net 1 trek van iets en hulle is “hooked” for life! Ander sal probeer en besluit dis nie vir hulle nie (soos ek). Party wat dan “hooked” is wil iets probeer met meer “kick” en so gaan dit aan tot daai persoon verslaaf is aan als wat gemors is en op die ou einde dood gaan. So hartseer, om dagga te legal was die grootste fout ooit!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.