Polisie steeds op soek na leeustropers

Foto: Verskaf.

Die polisie in Rust de Winter in Limpopo het Maandagoggend gesê niemand is nog in hegtenis geneem nadat ses leeumannetjies die afgelope naweek by die Mystic Monkeys and Feathers-dierepark gestroop is nie.

Kol. Moatshe Ngoepe, woordvoerder van die polisie, het gesê die karkasse van die leeus is ontdek toe ʼn werknemer van die plaas op pad was werk toe en bloedspatsels op die plaas gewaar het.

“Hy het toe die grusame vonds gemaak: vier dooie leeus met hul koppe en pote afgekap en twee dooie leeus wat steeds hul ledemate gehad het,” het Ngoepe gesê.

Maroela Media het vroeër berig drie witleeus en drie bruinleeus is doodgemaak. Maroela Media het verneem die leeumannetjies was almal byna drie jaar oud en in dieselfde kamp toe die stropers vermoedelik Saterdag in die vroeë oggendure toegeslaan het.

Ngoepe het gesê die voorlopige polisieondersoek dui daarop dat die leeus moontlik vergiftig is. “ ʼn Bebloede broek en tekkies is ook op die toneel aangetref.”

Die verdagtes is in dié stadium nog onbekend aan die polisie.

Mystic Monkeys is ʼn dierepark wat hulle beywer om wilde en bedreigde dierespesies te beskerm. Hulle versorg onder meer witleeus, wittiere en Bengaalse tiere. Daar is ook sjimpansees, oselotte, meer as 44 aapspesies en verskeie eksotiese voëlspesies.

Enigiemand met inligting oor die voorval kan vir kol. Alpheus Mokale by 082 565 6524 of die misdaadnoodlyn by 08600 10111 kontak, of hul naaste polisiestasie besoek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Andrea van Vuren ·

Wat ‘n tragiese gebeurtenis! So sinneloos en onnodig. Ek glo die stropers is alreeds landuit.

Alida ·

Gaan soek by die sangomas die liggaamsdele of is die SAPD ook bang hulle word getoor. Waar anders kan dit wees.

quo vadis ·

hoe siek moet mens wees om so wreed te wees en nog aan die twak te glo. Seker n “inside “job.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.