Polisie swyg oor hoë se terugkeer

Genl.maj. Johan Booysen, voormalige hoof van die Valke in KwaZulu-Natal Foto: witness.co.za

Genl.maj. Johan Booysen, voormalige hoof van die Valke in KwaZulu-Natal Foto: witness.co.za

Die polisie wou nie Maandag bevestig of ontken dat genl.maj. Johan Booysen, voormalige hoof van die Valke in KwaZulu-Natal, gaan terugkeer werk toe nadat hy glo onskuldig bevind is na ʼn interne ondersoek nie.

“Die proses is nog nie afgehandel nie en ons sal eers na afloop daarvan kommentaar lewer,” het lt.genl. Solomon Makgale, nasionale woordvoerder van die polisie, gesê. Carl van der Merwe, Booysen se regsverteenwoordiger, het egter gesê Booysen is op alle aanklagte vrygespreek. “Ek dink hy sal vanoggend vir diens aanmeld.”

Booysen was die hoof van die Cato Manor-eenheid teen ernstige en gewelddadige misdaad. Dié eenheid is intussen ontbind. Booysen, en lede van sy voormalige eenheid, is daarvan beskuldig dat hulle ʼn kriminele onderneming bedryf het. Hulle is daarvan beskuldig dat hulle betaling aanvaar het om sekere persone in die minibustaxi-oorloë in KwaZulu-Natal te vermoor.

Alle kriminele aanklagte teen Booysen is vroeër vanjaar teruggetrek. Die polisie het egter voortgegaan met interne stappe teen Booysen.

The Mercury berig vandag dat daar ʼn komplot was om van Booysen ontslae te raak. Adv. Nazeer Cassim SC, wat die ondersoek gelei het, het aan die koerant gesê: “Die feite dui op ʼn agenda om ontslae te raak van Booysen omdat hy as ʼn vasbeslote, professionele, bevoegde en taai polisieman beskou is, wat daartoe sou streef om oortreders voor stok te bring.”

Volgens The Mercury het Cassim bevind dat Booysen niks verkeerd gedoen het nie. The Witness berig dat Cassim se verslag krities is van ʼn aantal senior polisiebeamptes, waaronder die nasionale polisiehoof en die provinsiale polisiekommissaris.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

PJ ·

En so sal al die eerlike lede van die polisie uitgewerk word en die lys van korruptes net meer word.
Wonder watter ?@!#$ word nou later in Booysen se plek aangestel. Wat word van die land?

alet ·

Hulle is bang hy haal vd korupte polisie ook uit want n mens kan hulle net vertrou tot waar jy hulle kan sien

Renate Barnard ·

Ek ken Generaal Booysen persoonlik en hy is nog een van die “ou skool” polisie offisiere wat sy werk met toewyding en erns doen. Hierdie voorval is weereens ‘n ERNSTIGE klad op die naam van die Nasionale Kommissaris en haar bestuur. Dit is skandelik dat ‘n ervare, toegewyde loopbaan polisieoffisier soos ‘n misdadiger behandel word en dit deur die SAPD bestuur. Generaal Booysen, ek salueer u.

Willie ·

Nou ja, ry dié wat valse aantygings teen u, Generaal Booysen, gemaak het tot in oom Daantjie se kallerhok!

EMK ·

Watse “interne stappe” wil hul nog teen hom neem as alle aanklagte vals is en teruggetrek is?? Wil natuurlik sy lewe hel maak sodat hy nie anders kan om naderhand te bedank nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.