Polisie tref twee vroue in taxi

misdaadtoneel

(Argieffoto ter illustrasie)

Die onafhanklike polisieondersoekdirektoraat (Opod) sê hy ondersoek ʼn saak van poging tot moord nadat polisiebeamptes vroeër vandeesweek twee vroue in ʼn minibustaxi getref het toe hulle skote op dié voertuig afgevuur het.

Een van die vroue was op pad om haar siek kleuter na ʼn kliniek te neem ten tyde van die voorval.

Volgens Grace Langa, woordvoerder van Opod, moes ʼn vrou Woensdag om 23:30 noodgedwonge haar seun na ʼn kliniek in Soshanguve neem. Die kind was glo siek en sy het haar buurman, wat ʼn minibustaxibestuurder is, gevra om hulle te neem.

“Die bestuurder het glo sy maatskappyvoertuig, ʼn kwantum-minibustaxi, gebruik om die vrou en haar kind te vervoer. Daar was in totaal vyf mense in die taxi, onder wie die bestuurder, twee vroue, ʼn man en die kleuter,” sê Langa.

“Lede van die polisie se nasionale intervensie-eenheid in Pretoria was terselfdertyd besig om saam met die plaaslike polisie die Soshanguve-omgewing te deursoek vir ʼn wit kwantumvoertuig wat glo in die gebied rondry en inwoners beroof.”

Die polisie het ʼn minibustaxi in Buitenkantstraat aangetref wat by die beskrywing pas van die een waarna hulle op soek is.

“Die beamptes het na bewering probeer om die taxibestuurder voor te keer, maar die bestuurder het nie stilgehou nie en vinniger begin ry. Die lede het ʼn skokgranaat in die rigting van die taxi gegooi, maar nie daarin geslaag om die bestuurder te stop nie,” sê sy.

Langa sê die polisiebeamptes was in ʼn ongemerkte voertuig en die taxibestuurder het na bewering gevrees hy gaan gekaap word.

“Die polisie het toe in die rigting van die minibustaxi geskiet terwyl hulle ʼn blou lig gewys het. Die bestuurder het dit opgemerk en stilgehou.”

Toe die beamptes die minibustaxi nader, het hulle ontdek dat hulle twee van die vroue raakgeskiet het. Een van die vroue is in haar linker- en regterbeen getref, terwyl die ander een aan haar regterkant getref is.

“Albei slagoffers is per ambulans na ʼn plaaslike hospitaal geneem.”

Agt patroondoppies en een skokgranaathouer is op die toneel gevind.

Opod se ondersoek duur voort.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.